Die outjie van sewe onthou nie veel nie. Maar soos die meeste Zambiërs jou sal sê: Zambië is God se geskenk aan die aarde. Dis ’n pragtige land. Ek’s gebore in Chingola waar ons as kinders in die pad kon speel, maar as die straatligte aankom, het ons geweet dis tyd vir huis toe.
As ek en my jonger broer stout was, het die bure jou ’n pak slae gegee. En dan het ons ouers ons ook ’n pak slae gegee, want as ons saam was, moes die een die ander gekeer het van stout wees.
In 1963, ek was sewe, toe trek ons Suid-Afrika toe as gevolg van die politieke situasie in Zambië. Albei my ouers is van Suid-Afrika. My pa se ouers is van Ierland. My eerste herinnering aan Suid-Afrika was dat al die bure Afrikaans was: voor, agter en langs die kante was almal Afrikaans.