book-icon Uitgawe 6 Augustus 2020

Leser: Bedank die dokters – maar ook die onderwysers

akkreditasie
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ons waardeer almal die dokters, verpleegsters, polisielede en ander wat in hierdie moeilike tyd so onbaatsugtig werk. En heeltemal tereg.

Maar vergun my om ons as onderwysers by hierdie groep in te sluit. Veral dié van ons wat maande lank vergete was terwyl ons skole en nasorgsentrums gesluit moes bly.

Ons is weer oop, maar my kleuter-en-nasorgsentrum het nou 50% minder werknemers. Ek kon hulle bloot nie langer betaal nie en bekommer my oor waar hulle weer werk sal kry. 

Ek het 30 jaar gelede begin met drie kleingoed in my motorhuis en my skooltjie opgebou tot ek 20 onderwysers en ander werknemers gehad het.

Geld is vir onvoorsiene omstandighede weggesit, maar dit was heerlik om geld te bestee om die skoolterrein te verbeter. Toe kom die inperking en binne drie maande is ons in diep skuld gedompel. En toe ons weer kan oopmaak, is der­duisende rande bestee aan skoonmaakmiddels en om plakkate oor sosiale-afstandreëls te maak.

Ons werkers is elke dag vroeg by die skool en werk ekstra ure ná skool om alles weer kiem- en virusvry te kry vir die volgende dag.

My tuinwerker loop 10 km van sy huis skool toe om die risiko van taxiritte te vermy.

Vervoer word vir ons ander werknemers gereël sodat openbare vervoer veilig­heidshalwe vermy kan word.

Aan al die privaat ballet-, gimnastiek- en sportafrigters wat ons kinders afgerig het: Ek bid vir julle ook.

Aan die ouers wat ons vertrou om hul kleingoed veilig en gesond te hou: dankie, dankie!

Ons doen alles wat moontlik is.

Ek salueer julle almal. Sterkte. 

– Tannie Juffrou, Port Elizabeth

Jongste uitgawe

27 Januarie 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees