book-icon Uitgawe 16 September 2021

Leser: Die seer wanneer die liefde jou verlaat

akkreditasie
0:00
play article
Intekenaars kan na hierdie artikel luister
Ek sit op ’n skurwe klip met my voete in Lambertsbaai se ysige Weskuswater.
Illustrasie.
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Op die horison spartel die son teen die watervloed. Iewers in die veld skree honger jakkalse, skril en pleitend soos mense. En dan kom die dassies grootoog uit hul grotte; spel jou naam teen die hemeltrans en teken jou presies soos ek jou onthou. 

Agter die Suiderkruis op die strand, jou gesig agter ’n sluier verberg, jou voete vol sand en my hart in jou hand. My witkopnooi; vir altyd in die kamers van my hart. In die plooiinge van my brein gegraveer.

Ek wil tyd terugdraai, maar dit beur vorentoe. Dis die onthou wat agter lê. Onthou is herinneringe, en herinneringe maak seer. Jou hare lank en glansend oor die skouers, mooi gelyk gesny. Die punte maak ’n horisontale lyn agter jou rug. Jou oë mistig blou en weerloos. Jou lippe ligrooi.

“Net vir jou,” het jy gesê, jou asem warm in my nek. 

Ek mis jou! Ons alles. Ons koffiebekers, ons wynglase, ons sagte seep, ons winterlakens waar Kupido en sy pyle vir ons die romantiek gevange hou. 

En vanaand op hierdie rots is als bloot ’n illusie asof jy nooit bestaan het nie. Die virus het jou kom haal. Helderoordag jou liggaam besmet. In die middel van die nag vir jou kom vat in ’n plastieksak met die goewerment se tjap. 

Nou is dit net ek. Ek en die eggo’s van my roepe van die klippe af. Soos Bette Milder sing: “Love is like a razor, it leaves your soul to bleed.”

Soms voel ek jou hand op my been. Dan gaan haal ek jou, monteer jou stukkie vir stukkie uit die skerwe van nostalgie en sit jou langs my neer as verweer teen die seer van liefde my verlaat.

FRANS CALITZ, LAMBERTSBAAI

Kom skryf aan ons
  • E-pos hgnbrief@huisgenoot.com. Briewe moenie langer as 300 woorde wees nie.
  • Menings wat hier gelug word, is nie noodwendig dié van die redaksie nie. Die skrywer van die wenbrief kry R300.
  • Jy kan vir ons kort briewe SMS na 36489. Begin met die woord HGBRIEWE. Elke SMS kos R1.
Jongste uitgawe

21 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees