My ouers het afgetree en verkoop. Kleintyd was ek erg oor die plaas en met die bakkie en ’n jong man, Thomas, het ek gaan kyk watter fisieke herinneringe ek kon red.
Ons het drie dae daar gebly, en Thomas, ’n stadsmens, het duidelik die blootstelling aan die plaaslewe en boerekos geniet.
Toe kom die oggend dat ek vir oulaas moes groet. Op die grondpad van 47 km terug na die hoofpad het ek my sonbril aangehou, want die trane was vlak. Voor die teerpad stop ek eers, soos pa my geleer het, en loop om die bakkie om te kyk of die bande en alles nog reg is. En toe kon ek glad nie meer die trane keer nie.
Toe ek tot bedaring kom, laat hoor Thomas droogweg: “As my ma my antie groet as sy teruggaan Kaap toe, huil hulle altyd allervreeslik. Ek kon nie verstaan hoe Mevrou dan nie ook huil soos hulle nie.”
- Moenie enige groot nuus misloop nie! Vir boeiende nuus oor bekendes en aangrypende mensestories, teken in by Huisgenoot se daaglikse nuusbrief, “Huisgenoot Vandag”.