Onlangs moes ons die hartseer nuus verneem dat ’n ou kennis uit ons skooldae kanker het. Nodeloos om te sê was dit vreeslike nuus vir ons vriendin, maar boonop was haar finansiële omstandighede haglik en het sy alleen in die wêreld gevoel, met niemand om haar te help nie. ’n Mens kan jou beswaarlik indink hoe moedeloos en gebroke jy in haar skoene sou voel.
Maar wonderbaarlik kom ’n engel, ook van ons skooldae, oor haar pad en gou is ’n ondersteuningsgroepie gestig. Almal ou skoolmaats en kennisse.
Wat dit so merkwaardig maak, is dat sommige van hierdie mense mekaar amper 40 jaar laas gesien het. Maar dit het hulle nie verhoed om hul harte en beursies vir iemand in nood oop te maak nie.