Met elke kuier sit en kyk ek na die vreemdeling in die bekende lyf. Haar onthou, verstaan, en woorde is min. Die kuier is met ’n deurskynende weergawe van haar vorige self.
Sy vra na haar kinders, al sit hulle reg by haar.
Ek verlang na my ouma! Die ouma wat lekker lag oor stories, wat lees oor elke onderwerp en nog wat. Wat vertel van interessante goed wat sy raakgeluister het, wat blokkiesraaisels en kopkrappers invul en wonder oor alternatiewe betekenisse van ’n woord.
Ouma wat gesange wat ek al vergeet het in alt sing, wat gaan sit by die klavier en die wysies van opgewekte musiek uitwerk. Wat nuus oor ver familielede vertel.
Ek mis daai ouma met vuur in haar gees, humor in haar oog, en ’n lus vir elke dag. Al is ons fisiek naby, is daai ouma steeds soek. Ek smag na een gesprek met my ouma wat ek ken, wat my ken . . . en wat die “Ek is lief vir jou” herken.
Alzheimers, jy is ’n dief!
Lourensa Rood
- Moenie enige groot nuus misloop nie! Vir boeiende nuus oor bekendes en aangrypende mensestories, teken in by Huisgenoot se daaglikse nuusbrief, “Huisgenoot Vandag”.
Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!