Allamapstieks, wat gaan met die mensdom aan? Niemand is beter as ’n ander nie.
In ’n bekende winkel soek ek na parfuum vir my date night saam met my lewensmaat, beste vriend en berader van die afgelope 49 jaar. Ek vra ’n verkoopsvrou raad oor iets romanties. Haar antwoord? “Ek is net ’n verkoopsdame, nie ’n raadgewer nie. Besluit self wat jy wil hê. Ek kan nie vir jou kies nie; ek ken nie jou smaak nie. As jy klaar gekies het roep my, dis amper my teetyd.”
Ek is verstom, maar gaan soek self. Kry niks. Skielik tik iemand my op die skouer en vra of sy kan help. Entoesiasties haal Verkoopsvrou 2 botteltjies onder die toonbank uit en laat my een toets. Sjoe, die sagste, welriekendste parfuum ooit! Net die regte een om my sielsgenoot se asem weg te slaan. Ek is al 71, maar lyk en ruik graag goed vir hom.
Verkoopsvrou 1 stap na Verkoopsvrou 2 en vra of ek iets gekry het. Ek antwoord, ja, baie dankie, en sy stap weer weg. Ek betaal en stap uit, maar op ’n ingewing koop ek ’n bossie blomme en gaan gee dit vir Verkoopsvrou 1. Miskien is dit wat sy nodig het. Miskien het iets slegs in haar lewe gebeur.
Sy neem die blomme, druk my vas en vertel hoe jammer sy is. Haar man het haar geslaan die vorige aand en haar kindertjies het gevlug na hul ouma. Daar huil ons toe saam, waarna ek hulle na ’n veilige hawe kon neem.
Onthou: Blomme is daar vir die mooiwees, en mense vir die goedwees!
- Moenie enige groot nuus misloop nie! Vir boeiende nuus oor bekendes en aangrypende mensestories, teken in by Huisgenoot se daaglikse nuusbrief, “Huisgenoot Vandag”.