Die 16de, tienerskap nader sy einde. Die 18de, ’n mylpaal wat nuwe vryheid van keuses bring. Dan die 21ste, en skielik is jy ’n grootmens. Jy bepaal jou eie pad. Dit word ’n doolhof van besluite – soms goed, soms sleg.
In ons grootmenslewe breek daar ’n tyd aan wanneer verjaardae minder gevier word. Net herinneringe bly oor aan die jare toe jy opgewonde die kersies met één asem kon doodblaas. Die kersies is nou te veel vir jou asem en daar’s te min plek op die koek.
Verjaardae is bloot die kalenderdag wat jou lewe met nog een jaar laat verbyskuif. Elke dag word ’n viering, ’n genade.
Die kuns lê daarin om elke oomblik deeglik te benut, om voluit te leef so goed jy maar kan. Dan kan die jare maar kom en gaan, want jou lewe is nie meer ’n uurglas wat leegloop nie. Eerder ’n beker van genot wat telkens vol word en oorloop.
Verjaardae is soos sjokolade – niemand hoef te weet hoeveel jy al gehad het nie!
Lynette Strydom
- Moenie enige groot nuus misloop nie! Vir boeiende nuus oor bekendes en aangrypende mensestories, teken in by Huisgenoot se daaglikse nuusbrief, “Huisgenoot Vandag”.