Ek sien hoe ’n figuur met geel hare met ’n bussie hier by sy “kantoor” opdaag.
Eers sit hy sy winkelsakkie versigtig agter die enigste bos op die sypaadjie neer, haal die opgevoude plakkaat uit en vou dit oop.
Dan stryk hy sy wenkbroue met ’n natgelekte vinger plat en stap na sy pos by die verkeerslig – skielik mankerig en met behulp van ’n kierie. Met ’n skynbaar geoefende beweging sak sy skouers merkbaar, sy gesig soos bruin leer van dae in die son.