’n Lewe in lockdown: ‘Hoekom jy nie ’n keuse het nie…’

akkreditasie
Hilda (inlas) en haar tweeling. Foto's verskaf
Hilda (inlas) en haar tweeling. Foto's verskaf
Huisgenoot se Gauteng-nuusredakteur, Hilda van Dyk, deel haar ervaring van die inperking sedert dit Vrydag in werking getree het.

En toe is dit Vrydag. Dag een van lockdown.

Die gejaag om alles reg te kry, is verby. Die kinders het genoeg melk en doeke (ek het so bietjie ge-panicbuy in dié opsig), daar is wyn in die yskas en genoeg vleis in die vrieskas dat ons minstens vir die grootste deel van die 21 dae-inperking uit die plaaslike kruidenierswinkel kan bly.

Daar is so ’n gewydheid in die lug. ’n Godswater-moet-nou-oor-Godsakker-loop-gevoel.

Die hoeveelheid verkeer in die pad wat verby ons huis loop, is merkbaar minder. Selfs by die kafee skuins oorkant die pad is die gewone locals nêrens te sien nie. Die hardewarewinkel se groen hekke is toe.  
 
By die huis is dit eintlik ’n gewone werksdag. Liefie sit voor sy rekenaar en ek is in vergadering op vergadering. Elke nou en dan, kom klou een van die kinders aan my been en strek hul arms uit om opgetel wil word. Buurman sny sy gras en roep oor die muur. Al klaar honger vir ’n geselsie.

Die televisie is op op ’n nuuskanaal gestel. Heeltyd dwaal my oog na die jongste nuus. Ek sien die beelde van mense wat teenaan mekaar staan terwyl hulle wag om die winkel in te gaan om vir hulself die basiese eetgoed te kry.

In die Johannesburgse middestad word mense in busse gelaai om iewers heen geneem te word. Die dag se aantal geïnfekteerdes word aangekondig. Deur die loop van die middag kom die nuus deur van die eerste twee sterftes weens die coronavirus (dit is later bevestig die een sterfte was nie weens die virus nie).

“Ons kan nie die heeltyd hierna kyk nie,” sê Liefie. “Dit gaan ons nog mal maak.”

Teen laatmiddag sit Liefie skaapskenkels in die oond. Ek en die kinders speel op die mat. Die foon lui. Nóg ’n vergadering. Ons maak hom gou klaar terwyl die kinders elkeen hul stem se volume toets. Hoe meer ek sê saggies, hoe harder gaan hulle.

“Jammer julle, dis chaos hier,” maak ek verskoning. Ons groet en wens mekaar ’n lekker naweek toe.

Liefie gooi vir ons elkeen ’n glas wyn en ons cheers op dag een van lockdown. Dit was nie té sleg nie, sê ek. Hier sit ons en drink ’n glas wyn terwyl die reuk van skaakskenkels die lug vul. Die kinders pak die Tupperware-kas uit en lag vir mekaar. Dan jaag hulle mekaar al kruipende badkamer toe om daar te gaan speel.

Ek en Liefie kyk vir mekaar. Hier gaan ons bly vir 21 dae want as daar een ding is wat ons nie wil hê nie, is dat ons twee lyfies nie hierdie aaklige virus moet kry.

Saterdagoggend is ons al vroeg-vroeg wakker. Sussie is al vyfuur op. Sy kry haar bottel en ek maak die dag se eerste koppie koffie.

Buite is dit toegetrek. Trietserig. 'n Ligte misreëntjie val.

Net na sesuur is Boeta op. Hy kry sy bottel en ons ons tweede koppie koffie.

Gewoonlik is Saterdagoggende besig; ’n geskarrel om alles reg te kry vir die dag want Liefie se besigheid is grotendeels naweekgebonde. Maar nie vandag nie.

Vandag is alles rustig, ons teug rustig aan ons koffie en die kinders kruip die wêreld vol.

Terwyl die kinders speel, loer die skottelgoed uit die opwaskamer vir my. Daar het geen inperking in dié afdeling plaasgevind nie, sien ek. Niks ge-een-een nie. O nee. Die getalle neem toe. Want om een of ander rede wil daar in dié huis net geëet word. En elke keer is dit nog iets wat in die wasbak beland. Die skottelgoed hou aan loer. Ek. Kan. Nie.

Ek kry eers ander goed om te doen. Gee die kinders pap. Pak die Tupperware-kas terug. Pak die speelgoed weg.

Later hou die goed om te doen op. Jy gaan daardie wasbak een of ander tyd moet takel, Hilda.

Ek begin met die babas se bottels, dan hul papbakkies, dan die glase en borde. My ma stuur vir my ’n stemnota. “Laat weet wat jy dink,” WhatsApp sy my.

Dis nog iemand wat vertel hoe erg die virus is. Ek bel my ma.

“Dis regtig so erg. Ma moet asseblief by die huis bly en nie naby mense kom nie. Ma is oud en raak klaar maklik siek,” sê ek.

“Maar die eensaamheid vang my.” My hart wil breek. Ek simpatiseer en smeek weer. Bly asseblief by die huis. Ons lui af. Dis weer tyd vir bottels.

Teen laatmiddag begin die son sy kop wys. Die huis se vier mure wat ons al heeldag vaskeer, maak ons mal.

“Ek gaan ’n paar gholfballe slaan,” sê Liefie.

“Ek gaan bietjie plante plant,” sê ek.

Ons sit die kinders op die grasperk neer. Hulle kruip van die een hoek tot die ander hoek. Dan word daar in die grond gespeel, dan word stokkies gekou, dan is hulle in die bak water wat onder die kraan staan.

Teen halfses is die kinders nat en vuil, die plante is geplant en Liefie se lus vir ’n gholfbaan gevaarlik hoog.

Babas word gebad en bottels gegee. Hulle raak dadelik aan die slaap.

Ons sit ’n plathoender in die oond en gaan sit op die bank. Nie lank na aandete nie, raak ons ook aan die slaap.

Sondag is dit dag drie van lockdown. En dit is dag drie sedert ons laas geoefen het.

Weer loer die skottelgoed uit die opwaskamer vir my. Ek herhaal die vorige dag se roetine. Doen alles anders eers voor ek die skottelgoed pak.

Teen elfuur is die skottelgoed gewas en my oefenklere en tekkies is aan. Liefie trek ook sy tekkies aan. Ons sit die kinders op die gras en begin met ons oefenronde.

Eers hardloop jy om die huis, dan jumping jacks en dan mountain climbers. Ons asems jaag.

Die kinders speel in die grond terwyl ons die een oefening na die volgende doen. ’n Uur later is ons klaar. Nat gesweet. Asems wat jaag. En liggame wat verfris voel.

Terug in die huis is dit tyd vir die kinders se middagete. Ná middagete kry elkeen ’n stukkie biltong wat pap gesuig word. Kort voor lank oorval die moegheid hulle en raak hulle op die mat in die televisiekamer aan die slaap.

Ek soek iets op televisie om te kyk en kom op Orkney snork nie 2 af. Sedert die nuus van die inperking het ons lanklaas so lekker gelag soos vir Hendrik, Maggie en vir Spike. Die kinders word wakker en begin speel. Dan is hulle op die gras. Dan is hulle in die sandput. Dis omtrent ’n gebabbel soos die twee gesels.

Later gooi ons ’n vleisie op die kole.

“Hierdie was nou ’n lekker Sondag, maar ek weet nie of ek vir elke Sondag vir die onafsienbare toekoms by die huis gaan kan bly nie. Die mure keer mens vas,” sê Liefie.

“Dis ’n kopding,” sê ek. “As jy ’n keuse gehad het om vandag by die huis te bly, sou dit jou nie gepla het nie. Dit is omdat jy nie ’n keuse gelaat word nie.”  

Teen die aand kom die nuus van die tweede sterfte weens die virus. Dis ’n ou oom.

“Sien, dis hoekom jy nie ’n keuse gelaat word nie,” sê ek. 

Jongste uitgawe

28 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees