Jy sien op die gesig van die vrou by die kassiere voor ons dat haar kaart verwerp word en sy krap desperaat in haar beursie vir sente. Voor haar op die toonbank is ’n brood, ’n liter melk en no-name brand-babadoeke. Dis al.
Ek kyk na die vrou by die betaalpunt regs van ons: ’n brood en ’n buisie tandepasta. En by die kassiere links van ons ’n bejaarde man met ’n halfdosyn eiers, ’n bietjie meel en ’n botteltjie blatjang. Agter hom, ’n man met R30 se maalvleis en ’n pakkie no-name brand-rys.
Die oom by die kassiere vra: “Please can you give me change, I need to put petrol.” Sy gee vir hom twee R50-note.
En skielik wil ek net huil vir almal van ons. Dis nog maar net die 8ste van die maand, maar niemand kan meer as een of twee aande se kos koop nie. Almal se salarisse bly dieselfde, dié wat nog gelukkig genoeg is om te kan werk. Maar brandstof en kos se pryse gaan deur die dak. Vleis en selfs tandepasta is ’n luukse.
En jy kom agter mense help ook nie meer so mildelik soos in die ou dae hul bure met ’n koppie suiker of melk oor die heining nie. Almal hou wat hulle het.
My hart is vanaand stukkend, want soveel mense ly in stilte. Mense vermy jou as hulle weet jy sukkel. Jy word nie meer na ’n braai genooi nie.
Van wanneer af is swaarkry ’n sonde, en deel taboe?
Waardeer wat jy het, maar help en gee asseblief ook waar jy kan.
- Moenie enige groot nuus misloop nie! Vir boeiende nuus oor bekendes en aangrypende mensestories, teken in by Huisgenoot se daaglikse nuusbrief, “Huisgenoot Vandag”.