Pta.-vrou soek steeds na haar hond ná 5 maande

akkreditasie
Sy wéét hy is nog lewendig. Sy kan dit aanvoel. Noem dit maar ’n moeder se instink, maar daar is net daardie gevoel binne haar wat sê haar beagle, Luke, is nog daar buite en hy wag vir haar om hom te help.
Soné Louw mis haar hond Luke.
Soné Louw mis haar hond Luke. Foto: Verskaf.

Selfs deur die hel van die afgelope paar maande voel Soné Louw (27) steeds genoop om nie moed op te gee oor haar verlore hond nie.

“Die dag wat daardie gevoel binne my weggaan – dat hy nog lewe en my nodig het – dan sal ek dalk tou opgooi. Maar daardie gevoel is nog elke liewe dag daar,” vertel Soné aan Huisgenoot.

Luke het op 16 Desember verlede jaar saam met die gesin se dobermann, Bear, by Soné se huis in die noorde van Pretoria uitgekom nadat tuindienste die hek oop vergeet het. Hoewel Bear gevang is, het Luke weggehardloop.

Sedert sy Luke vier jaar gelede by Onderstepoort se Veterinêre Akadamiese Hospitaal in Pretoria aangeneem het, het die woef blitsig deel van die gesin geword.

“Luke is my cuddle buddy en hy is vasberade om dié posisie te behou. Hy slaap bo-op ’n mens, en as jy probeer beweeg, is dit asof hy sê: ‘Jy gaan nêrens nie, Ma. Hierdie is hoe ons gaan bly,’” lag Soné, ’n geregistreerde veearts-verpleegkundige.

“Hy is altyd by my, en dít is wat ek die meeste mis,” voeg sy dan droewiger by.

Soné was met vakansie in die Krugerwildtuin toe sy in Desember die oproep van een van haar bure ontvang dat haar honde by haar huis se hek uitgehardloop het. Hulle kon Bear vang en bedaar, maar Luke het verwilderd weggehardloop.

Die inperking se aandklokreël het verhoed dat Soné dadelik terug Pretoria toe kon ry, en dit het ook die bure later gedwing om hul soektog te stop.

“Dit was die ergste paar ure van my lewe daardie aand. Vieruur die volgende oggend toe die aandklokreël opgehef is, het ek onmiddellik huis toe gery,” onthou Soné.

Soné Louw vertroetel Luke.
Soné Louw vertroetel Luke. Foto: Verskaf.

Sy het die soektog voorgesit waar haar bure die laaste keer vir Luke gesien het, maar tevergeefs. Sy bied ’n beloning van R10 000 aan vir die persoon wat haar help om haar en Luke weer te herenig. 

“Ek is ook verskriklik lief vir Bear, maar Luke is my eerste hond, my eerste kind. Ek mis dit om hom oral saam te neem en heeltyd by my te hê,” vertel Soné.

Soné is van soggens tot saans besig met haar soektog. Wanneer sy smiddae by die werk loop, stop sy by elke persoon wat sy sien draf, fietsry of loop. Sy het ook al honderde pamflette uitgedeel en teen lamppale opgesit oor die afgelope paar maande.

Luke is vermis sedert 16 Desember verlede jaar.
Luke is vermis sedert 16 Desember verlede jaar. Foto: Verskaf.

“Elke keer dat iemand vir my sê hulle het ’n verlore hond iewers gesien, gaan soek ek by daardie plek. Selfs al is dit nie Luke nie, is dit iemand anders se hond. Ek het al talle honde so gered,” verduidelik Soné.

Soné het haarself al in vreemde plekke begewe soos dreine en tonnels in haar soeke na Luke.

Sy het stelselmatig haar soektog laat uitkring tot Centurion en Midrand, en vra selfs mense wanneer sy Johannesburg toe moet gaan. ’n Facebookblad is gestig om meer mense by haar soektog in te sluit.

“Ek wil hê dat almal in Suid-Afrika moet weet dat Luke vermis is. As iemand ’n beagle ver van Pretoria-Noord af sien, moet hulle nie dink dit kan nie Luke wees nie. Hy kan enige plek wees, ek weet net nie meer waar om te soek nie,” vertel Soné.

“Ek weet hy lewe nog, en hy moet net deur die regte persoon op die regte tyd gesien word,” sê sy.

Kom neem deel aan die gesprek, veral as jy vir Luke gesien het
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe


Jongste uitgawe

28 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees