Lastig as hulle in jou dak kom nes maak; lastig as hulle die ander voëls in die tuin verwilder. Voëls wat g’n mens deur ’n verkyker dophou nie.
Maar toe kom kies ’n paar my stoep as hul nuwe tuiste, en hul nesmakery word iets wat ons naderhand met bewondering aanskou. Ons huis se vorige eienaars het ’n waaier aan die stoep se plafon laat aanbring – nutteloos teen die somerhitte, en vandag net ’n stuk onooglike roes.
Ek wou dit al laat uitskroef, maar “wou” bring my nêrens nie. En toe, vroeg November, sien die spreeus dit. Hulle het takkies en klammigheid begin aanvlieg en dit kom pak op die waaier se lemme. Vrolik vir mekaar getjilp, duidelik trots op hul vordering.