My oudste maak die karakter se verontwaardiging na; my jongste proes oor sy boetie se streke. Ek lag ’n stukkie saam en slaap verder met my seuntjies toegewikkel onder dieselfde kombers.
Dit is ons Vrydagaandritueel: fliekaand, met die vaak wat my presies twee derdes diep in die fliek kom haal.
Dit was nog altyd my gunstelingmanier om enigiets te kyk: so halfpad betrokke terwyl my geliefdes ontspan.