My persoonlike admin lê soos ’n berg voor my. ’n Stapeltjie papiere op my lessenaar en ’n geel lêertjie op my rekenaar bevat wat voel soos seweduisend vervelige take. Ek kry ’n moegheid as ek net daaraan dink.
Dit voel asof ek drie dae verlof moet insit om te gaan staan in al die toue waar ek moet gaan staan, en moet teken-en-betaal vir elke denkbare ding van die grootmenslewe. In sulke oomblikke wil ek gil of vlug of net gaan lê. En sommer lelik kla.
Ek doen wat ek altyd doen wanneer my eie sake my onderkry: begrawe my aandag in die werk. Yvonne-van-die-werk is uitgesorteer en oppit; Yvonne-by-die-huis moet in ’n laai gaan soek na die dinge wat sy wou ignoreer.