My seuntjie het op die toonbank in die kombuis gesit met sy vingertjies in die mengbak, en ek was swanger met my tweede.
Ons was te opgewonde om te wag vir die koek om heeltemal af te koel voor ons versier, en dinge het bietjie morsig geraak. Dit was ’n rooifluweelkoek en dit het geproe nés die een in die koffiewinkel om die draai.
Op ’n foto van daardie Saterdag kyk my kind met blou oë na die kamera – sy gesiggie die ene onskuld en vertroue in sy ma se bakvernuf. Wat ek ook onthou, is dat ek eintlik toe moeg en bedremmeld was. So lief vir my kind, maar ook so gedaan.