Oorkant my kom sit Amanda Strydom en ons begin gesels. Ek voer ’n onderhoud met haar as deel van die gesprekreeks by die eerste Musiekindaba, ’n eiesoortige, spesiale samekoms van almal wat ’n pad stap deur die Afrikaanse musieklandskap.
Ná Amanda gesels ek met Kurt Darren en Anton Goosen. En al drie slaan my woorde byna weg – met hul wysheid, hul stories, hul toewyding en hul dankbaarheid vir die ervarings en mense op hul pad.
Terwyl ek so na hulle luister, voel ek totaal verwonderd. Nie net oor hoe eerlik hulle praat oor die uitdagings en groot oomblikke op hul pad nie, maar ook oor hoe bereid hulle is om van hulself te deel. Elkeen géé in die gesprek.