Om te kyk na die video’s waarin skoolleerders spog met hul slag voor die kamera, is soos om ’n inspuiting energie en hoop te kry. Die jongklomp is slim, vol selfvertroue, spitsvondig en slaggereed om aan hul gawes te skaaf. Hulle doen hul bes en gee áls.
Wanneer ons droewig of terneergedruk voel oor die uitdagings van die toekoms, kan ons maar gerus kyk na die lewensenergie van môre se generasie – húlle is die toekoms, en hulle sal op hul eie manier die pad vorentoe vind.
Ons is trots om vandeesweek die wenners in die kategorieë vir sang, redenaars, poësie en prosa bekend te maak (bl. 86) – kyk gerus ook hul inskrywingsvideo’s op huisgenoot.com, dis iets om op trots te wees. Ons maak ook op ons webwerf bekend watter pryse – goud, silwer of brons – ál die deelnemers ontvang het.