In my hoërskooldae was my pa ’n mediese dokter in Delareyville in die destydse Wes-Transvaal. Ek was op skool in Bishops College in Kaapstad. Elke skoolvakansie ry ek met die trein heen en weer.
Tydens vakansies, soos alle seuns, loop jy rond met jou windbuks en soek moeilikheid. Die treinstasie op die dorp was natuurlik die ideale plek om te gaan skiet en terselfdertyd wys die ooms jou sommer bietjie rond ook. Dit was my enigste blootstelling aan treine gewees.Om ’n treindiens te besit, was beslis nie een van my drome as kind nie.
Ná matriek in 1964 trek ek Johannesburg toe en begin ensiklopedieë van huis tot huis verkoop. Dit is waar ek geleer het harde werk is die enigste manier hoe om sukses te bereik. Jy moet jou agterent in rat kry, want as jy nie verkoop nie, kry jy nie geld nie.