“Ek was vasbeslote om ’n aktrise te word. Soms word daar so baie druk op jou gesit, veral as vroue in Suid-Afrika, om in jou ouers se voetspore te volg. As jou ouers onderwysers is, byvoorbeeld, dan gaan jy ook in die onderwys in. En ek het hard daarteen geskop.
Ná skool het ek drama aan die Universiteit van Stellenbosch studeer. Baie jong Suid-Afrikaners het in die vroeë 2000’s die pad Londen toe aangedurf, en al wou ek graag wegkom uit Suid-Afrika, het dit ook te maklik gevoel om net ander se spore Londen toe te volg.
Toe doen ek aansoek vir filmstudie in New York en word aanvaar. Langs die Decameron-restaurant in Stellenbosch, waar ek gewerk het, was ’n reisagentskap. Een oggend het ek my kaartjie New York toe daar gaan koop. Dit was 11 September 2001. Later daardie oggend het twee passasiersvliegtuie teen die torings van die World Trade Center in die einste New York vasgevlieg.