‘Só voel dit om swanger te wees tydens ’n pandemie’

akkreditasie
Foto's: Instagram/@tracidavids
Foto's: Instagram/@tracidavids
Toe Traci Ann Davids van Kaapstad verlede jaar uitvind sy is swanger met haar eersteling, was sy in die wolke.

Die 27-jarige ma se vreugde het egter in Maart na paniek verander nadat die eerste coronavirus-geval Suid-Afrika getref het.

Pleks van om die ervaring met die ondersteuning van familie en vriende te geniet, moet Traci – wat tans in haar derde trimester is – doktersafsprake op haar eie bywoon, en haar drome van ’n ooievaarspartytjie is aan skerwe. 

Hier is haar ervaring.

“Jou hele lewe verander dadelik wanneer jy daardie twee lyntjies op ’n swangerskaptoets sien. Jy begin al die mylpale visualiseer wat jy saam met familie en vriende gaan vier, en die opwinding om alles vir die eerste keer te ervaar, begin opbou. Jy dink nie een keer aan die moontlikheid dat jy nie hierdie vreugde saam met jou nabye familielede sal kan deel nie.

Ek was sowat vier of vyf maande swanger toe die virus Suid-Afrikaanse lewens begin oorneem, en ek het reeds twee weke voor die landwye inperking van die huis af begin werk.

Die maatskappy waarvoor ek werk, is proaktief en ek is baie dankbaar hiervoor. Ek sê dankbaar, want die oomblik toe die nuus oor hierdie dodelike siekte begin versprei, het die vrees my beetgepak omdat ek bekommerd was oor die lewe van my ongebore kind.

Daar was geen duidelike feite rakende swanger vroue in daardie stadium nie, en ek kon voel hoe die angstigheid van die onbekende my alledaagse lewe oorneem.

Een van die maniere hoe ek myself probeer kalmeer het, was om gim toe te gaan; iets waarmee ek regdeur my swangerskap volgehou het. Ek en my lewensmaat het egter besluit om dit te staak nog voor die gim noodgedwonge moes sluit omdat ons bewus was van hoe vinnig ’n virus in daardie omgewing kan versprei.

View this post on Instagram

It's a family affair ????????#6monthspreggies

A post shared by Traci Ann Davids (@tracidavids) on

Toe dié uitlaatklep weggeneem is, het ek party dae hartseer gevoel, want dis waar ek myself beter laat voel het oor die veranderinge wat my liggaam deurgegaan het.

Sowat ’n maand later, toe die getalle begin styg, was ek by een van my ginekoloog-afsprake toe my gemoed tot in my skoene sak. Daar is aan my gesê dat net ek toegelaat sou word om die afsprake by te woon en my lewensmaat mag nie saamkom nie. My dokter het toe ook gesê daar is nie beperkings rakende die bevalling nie, en hy sal aan my sy kan wees tydens die geboorte van ons baba.

Ek was moedeloos ná daardie afspraak omdat ek besef het ek is ’n normale eerste swangerskap-ervaring ontneem. Ek het baie emosioneel geraak toe ek dink aan die feit dat ek nie ’n ooievaarspartytjie sal kan hou nie, nie in winkelsentrums en by die werk sal kan rondwaggel en my kosbare boepie wys nie, en ek was bang om die huis te verlaat omdat jy nie die oorsaak wil wees dat enigiets met jou kind gebeur nie.

Ek is nou in my laaste fase van my swangerskap en dis ’n bittersoet gevoel. Die opwinding om jou baba te ontmoet is beslis daar, maar ook die hartseer om nie familie om jou te hê namate jou bevalling naderkruip nie. Geen besoekers word in die hospitaal toegelaat behalwe die pa van die baba nie, en daarvoor is ek dankbaar, maar om nie jou ouers daar te hê om hul kleinkind te ontmoet nie, maak nie net vir ons seer nie; dit maak ook vir hulle seer.

View this post on Instagram

Last week of the 2nd trimester ??

A post shared by Traci Ann Davids (@tracidavids) on

As swanger vrou tydens die COVID-19-pandemie is jy ook te bang om aan hierdie emosies uiting te gee, uit vrees dat dit afgemaak sal word deur talle Suid-Afrikaners wat glo hierdie gevoelens is gering vergeleke met wat tans in ons land gebeur – en dis waar.

Maar dit het jou steeds iets ontneem van jou swangerskap-ervaring, veral as dit jou eersteling is, en daardie behoefte om te deel in al die dinge wat jy jou voorgestel het op die dag toe jy daardie twee lyntjies gesien het.”

Jongste uitgawe

28 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees