Wanneer hy soms laatnag wakker lê, kry hy terugflitse van ’n bruin hond agter wie se rug hy skuil. Maar die beelde van sy viervoetige vriend met die skerp gesig is vlietend en verdwyn altyd weer in die nag.
Dalk is dit ’n bedekte seën dat Erik Ras bykans niks kan onthou van die eerste brose deel van sy lewe nie, want die omstandighede waaruit hy destyds as kleuter gered is, is genoeg om die hare te laat rys.
Hy was sowat 18 maande oud toe ’n maatskaplike werker hom byna vier dekades gelede in ’n motorhuis in Maitland, Kaapstad, aangetref het. Die seuntjie was heeltemal verlate, met net ’n hond en dié se kos en water om hom aan die lewe te hou.