book-icon Uitgawe 2 Februarie 2023
Deel

Kriminologiestudent eindelik vasgetrek na raaiselmoorde van 4 VSA-studente

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Kriminologie­student wat van die moord op vier studente verdink word, was ge­fassineer deur misdaad en moord.
moord
Bryan Kohberger is aangekla van moord op vier studente van die Universiteit van Idaho. Foto: Gallo Images/Alamy

Dit neem ’n oomblik vir Dylan Mortensen om tot verhaal te kom en te besef wat haar laat wakker skrik het: ’n dowwe slag êrens in die huis, gevolg deur iemand wat huil. Dis vier­uur op ’n Sondagoggend. Wat op aarde is aan die gang? 

Dylan (21) maak haar slaapkamerdeur op die grondvloer oop om te gaan kyk, maar verstar toe sy ’n gemaskerde man in swart klere sien. Vir ’n paar oomblikke kyk die man stip na haar en stap dan onverstoord by ’n glasdeur uit. 

Dylan sluit haar kamerdeur en klim terug in die bed – salig onbewus daarvan dat haar vier huismaats op die boonste verdieping dood lê.

En so begin die raaisel rondom wat nou bekend staan as die moordhuis op die Amerikaanse dorp Moscow in die staat Idaho. 

Vier studente – Kaylee Goncalves (21), Madison Mogen (21), Xana Kernodle (20) en haar kêrel, Ethan Chapin (20) – is daardie nag in November verlede jaar koelbloedig met messe in hul beddens doodgesteek.

En so skokkend soos wat die moorde was, net so vreemd was die omstandighede. Terwyl gedenkdienste op die kampus van die Universiteit van Idaho gehou word, krap die polisie behoorlik kop. Wie was die man met die mes, en waarom het hy dit gedoen?

Want ’n gewone inbreker was hy nie. Waarom het hy op die huisbewoners op die boonste verdieping toegeslaan, maar vir Dylan en Bethany Funke (21) op die grondvloer laat leef? Dit sou maklik gewees het om hulle ook te vermoor, want die huismaats het almal die vorige nag tot laat gefuif.

Leidrade was skraps. Dylan, wat vir nog agt uur geslaap het nadat sy die gemaskerde man gesien het, kon net onthou dat hy welige wenkbroue gehad het en atleties gebou was. Die moordwapen is nie in die huis gevind nie, maar wel ’n messkede.

En sekuriteitskameras verklap dat ’n wit Hyundai Elantra op die gruwelnag buite die moordhuis was. Vir ses lang weke het die polisie met onder meer selfoontegnologie na antwoorde gesoek en in die proses 20 000 wenke opgevolg. 

Toe die deurbraak eindelik kom, was dit danksy DNS wat gevind is in ’n vullisdrom naby ’n huis in Albrightsville, Penn­silvanië – sowat 4 000 km weg van die moordtoneel.

Die huis in Albrightsville het behoort aan die ouers van Bryan Kohberger (28), ’n doktorale student wat net 15 minute se ry van die moordhuis in Idaho woon. Die DNS in die drom het 99% ooreengestem met DNS op die messkede in die moordhuis.

Bryan staan nou tereg op vier aanklagte van moord, en die polisie glo hulle het voldoende forensiese bewyse om hom suksesvol te vervolg. Maar steeds word daar oor sy moontlike motief gegis, want dit is nie eens duidelik of hy sy slagoffers persoonlik geken het nie.

Kon die feit dat hy besig is met ’n doktorsgraad in kriminologie dalk ’n rol gespeel het? En sy plasings op sosiale media voor en ná die moorde het die ysingwekkende vraag laat ontstaan: Het die jong man dalk sy gruweldade gepleeg as deel van sy doktorale navorsing? 

Bryan het sy doktorale studies gedoen aan die Universiteit van Washington, binne gerieflike ry­afstand van die slagoffers se kampus en woonplek in Idaho.

Vyf maande voor die moorde het hy op Reddit misdadigers genooi om sy “akademiese vraelys” te voltooi. Hy wou spesifiek weet hoe hulle die slagoffers kies en dan die misdade uitvoer.

Later sou sy selfoonrekords toon hy het sy slagoffers se woonbuurt in die maande voor die moorde minstens 12 keer besoek. Kort voor haar dood het Kaylee oor ’n “bekruiper” gekla.

Die polisie was aanvanklik agterdogtig omdat Dylan en Bethany eers agt uur ná die moorde die polisie gebel het. Maar hulle glo nou die twee was bloot besope en het hulle roes afgeslaap ná die vorige nag se gefuif elders in die stad. 

Een frustrasie was die geheimsinnige wit Hyundai Elantra buite die moordhuis. Geen nommerplaat was sigbaar op die sekuriteitsvideobeelde nie. Maar met ’n ondersoek van kringtelevisiekameras in ’n groot radius rondom die moordhuis het ander beelde van die wit motor opgeduik – hierdie keer op die kampus van die Universiteit van Washington. 

moord
Beste vriendinne Madison Mogen en Kaylee Goncalves is in hul beddens doodgesteek. Foto: Instagram/@kayleegoncalves

Die polisie kon vasstel dit behoort aan Bryan, ’n geregistreerde student aan die universiteit. Die kriminologiestudent was nie op kampus of by sy eie woonplek daar naby te vinde nie. Die polisie se soektog het hulle oplaas na sy ouerhuis in Albrightsville gelei – waar hulle hom toe gevind het. 

Die FBI het Bryan ongesiens dopgehou terwyl hy die Kerstyd by sy ouers deurbring. Hy het glo “vreemd en paranoïes” opgetree. Buite die huis het hy heeltyd chirurgiese handskoene gedra, en hy het herhaaldelik sy wit Hyundai – wat nou ander nommerplate gehad het – se binnekant skoon geskrop. 

moord
Ethan Chapin en sy meisie, Xana Kernodle. Foto: Instagram/@xanakernodle

Selfs interessanter was die feit dat hy telkens sy ouers se vullissak in die bure se drom geplaas het – en die FBI het geglo hulle weet hoekom. Die DNS aan die messkede in die moordhuis het immers nie aan een van die slagoffers of hulle oorlewende huismaats behoort nie.

In die vullissakke het forensiese ondersoekers op DNS afgekom wat ooreenstem met die biologiese pa van die mens wie se DNS op die messkede gevind is. En toe, op 30 Desember, het hulle Bryan in ’n klopjag op sy ouerhuis in boeie geslaan. 

Al dra Bryan deesdae ’n oranje tronkpak terwyl sy saak in die howe uitspeel, hou hy vol dat hy onskuldig is. En volgens sy prokureur, Jason LaBar, is die saak teen hom gegrond op “omstandigheidsgetuienis” wat “vol gate” is. 

LaBar redeneer dat die DNS op die messkede ten beste daarop dui dat Bryan in ’n stadium aan ’n drukknoop op die skede geraak het.

LaBar noem dit “aanraak-DNS” of “oordag-DNS” en voer aan “kenners sal getuig dit is vanselfsprekend daarop gelaat, want Bryan het daaraan geraak. Maar hulle kan nie sê wanneer hy daaraan geraak het nie.”

Daar is een ander ding wat Bryan moeilik tydens sy verhoor sal kan verduidelik – waarom hy in die weke ná die moord onder die naam “Papa Rodger” aangesluit het by sosialemediagroepe waar leunstoelspeurders misdade probeer uitpluis.

En waarom hy in hierdie besprekings dinge onthul het wat net die polisie en die moordenaar kon geweet het – soos dat ’n messkede op die toneel agtergelaat was. Was dit ’n geval van ’n moordenaar wat glo hy het skotvry daarvan afgekom, en toe nie kon help om te spog nie? 

Medestudente beskyf hom as wind­makerig, ’n ou wat behep was met reeks­moordenaars en forensiese sielkunde. Hy het altyd moeite gedoen om te wys hoe intelligent hy is.

moord
Die woonstelblok by die Universiteit van Washington waar Bryan, wat met ’n doktorsgraad in kriminologie besig was, gebly het. Foto: Gallo Images/Reuters

“Hy was ’n sterk student en het altyd in die klas gepraat,” sê Ben Roberts, ’n meesterstudent. Maar word hy skuldig bevind, sal dit ’n geval wees van slim vang sy baas.

Voor sy studies in kriminologie was Bryan nie so vol selfvertroue nie. Skoolvriende sê hy is gereeld afgeknou omdat hy vet was. “Hy was baie stil, baie in homself gekeer. Hy was in sy boeke verdiep,” vertel ’n vorige klasmaat, Sarah Healy.

In Moscow sukkel sy vermeende slagoffers se vriende nog om die sinnelose moorde te verwerk. Dylan het ’n ­tatoe van engelvlerke gekry en dit op sosiale media aan haar vermoorde huismaats opgedra.

Haar huldeblyk aan hulle is ook by ’n nagwaak voorgelees. “Elkeen van hulle het enige vertrek opgehelder waarby hulle ingestap het, en was ’n gawe aan die wêreld,” het sy geskryf. “Ek wens elke dag ek kon hulle almal ’n laaste drukkie gee en sê hoe lief ek hulle almal het.” 

Bronne: Cbsnews.com, people.com, nypost.com, slate.com, cnn.com, idahostatesman.com, theguardian.com

heading
description
username
Wys Kommentaar ()
Jongste uitgawe

30 Maart 2023

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees