KYK: Blinde, outistiese America’s Got Talent-sanger het wêreld in trane

akkreditasie
Die blinde en outistiese sanger Kodi Lee het onlangs mense van reg oor die wêreld geïnspireer met sy asemrowende optrede op die Amerikaanse talentkompetisiereeks America’s Got Talent.

Sy ongelooflike klavier- en sanguitvoering van die Amerikaanse musikant Leon Russell se liedjie A Song For You word reeds beskryf as die beste agt minute van vermaak dié jaar. 

Die 22-jarige Kodi het Dinsdagaand sy debuut op die kompetisie gemaak met sy ma, Tina-Lee, aan sy sy. Tina-Lee, van die suide van Kalifornië, het aan die beoordelaars en die gehoor verduidelik haar seun is blind en outisties. Kodi het toe vol selfvertroue aangekondig hy gaan "vir hulle ’n liedjie op die klavier speel". 

Sy ma het trots vertel hoe Kodi van kleins af al sing. “Om musiek te maak het eintlik sy lewe gered,” het sy aan die beoordelaars, Julianne Hough, Gabrielle Union, Simon Cowell en Howie Mandell, vertel.

Toe Kodi agter die klavier inskuif en lostrek met sy weergawe van A Song For You, kon die beoordelaars en gehoor nie die trane keer nie. Almal in die gehoor was op hul voete en het die talentvolle sanger toegejuig, insluitend die beooordelaars.

"Ek weet almal kort ’n stem en moet hulle uitdruk, en ek voel jou hart, jou passie," het Julianne, ’n bekende danser en Dancing With The Stars-kampioen, bygevoeg. “Jou stem het my stomgeslaan. Ek wil net sê ek het jou gehoor, ek voel jou en dit was mooi.” 

"Ek sal hierdie (optrede) vir die res van my lewe onthou," het haar medebeoordelaar Simon laat hoor, die man agter talentsoekreekse soos America's Got Talent en die sangkompetisiereeks X-Factor.  

Die aktrise Gabrielle Union (46), wat vir die eerste keer deel is van die beoordelaarspaneel, en in November verlede jaar vir die eerste keer ma geword het, was net so uitgeboul deur Kodi se sangtalent.

Om ’n ma te wees is die "moeilikste" en ook "belonendste" werk wat sy al gehad het, het Gabrielle vertel. "Jy wil vir jou kinders die maan, sterre en reënboë gee. En vanaand gaan ek vir jou iets spesiaal gee."

Daarna het Gabrielle die "golden buzzergedruk, wat beteken Kodi dring reguit deur na die regstreekse finale rondes.

Volgens Kodi se webtuiste is hy een van 25 wondermense in die wêreld wat ten spyte van ernstige gesondheidsuitdagings oor bonatuurlike musikale vermoëns beskik. Mense met dié spesiale gawe leef met uitdagings soos outisme, maar het uitsonderlike talente in verskeie velde, hetsy in wiskunde, wetenskap of die kunste. 

Sedert Kodi se oudisie gons dit in die kuberruim oor sy besondere sangtalent, ook onder bekendes soos die TV-magnaat Oprah Winfrey (65). “Verskriklik mal oor hierdie oomblik!” het Oprah met applous-emoji’s getwiet. “(Ek) het in my sitkamer opgestaan en gejuig,” skryf sy.

Bronne: Daily Mail, America’s Got Talent, kodileerocks.com

Jongste uitgawe

11 Augustus 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees
Huisgenoot Eisteddfod

Wys jou talent en kry meestersklasse by bekendes!

Huisgenoot Eisteddfod
Is jou kind talentvol en lief vir die kunste? Skryf nou in vir Huisgenoot se splinternuwe aanlyn nasionale kunsfees.
Skryf nou in