Dit is ’n deurmekaar rommelhoop van skrootmateriaal wat hier buite die skuur op ’n kleinhoewe net buite Bloemfontein rondlê. Raamwerke van motor- en kwadfietse, wiele in verskillende groottes en soorte, stukke staal van onherkenbare oorsprong asook ’n hoop pype, drade en kettings – noem dit, krap rond en jy sal dit hier iewers kry.
Maar dit is nie sommer net ’n hierjy-weggooiplek van onbruikbare skroot dié nie. Nee, dit is Dries Bekker (36) se “onderdeleafdeling” waar hy voorraad kry om sy vreemde, fabelagtige enjinaangedrewe karre en motorfietse te bou.
Van dié “goetertjies”, soos Dries sy meganiese skeppings noem, word deesdae ingespan om kinders op kinderpartytjies te vermaak.