KYK: Hond-eienaar blaas meer as R150 000 op chihuahua-klere

akkreditasie
Hierdie skattige chihuahua-kruising se luukse bestaan is deesdae allermins 'n hondelewe nadat sy die eerste maande van haar lewe in 'n nederige hondeskuiling deurgebring het.

Rebecca Shelton het haar aangeneem toe sy drie maande oud was, en die brakkie Presley genoem na haar gunstelingsanger, die koning van ruk-en-rol, Elvis Presley.  

“Sy is soos my baba. Ek behandel haar soos my kind,” sê Rebecca van die Amerikaanse staat Florida aan Metro News.

“Ek het Presley gekry nadat my ma oorlede is. Sy wou hê ek moes geselskap hê.”

Toe die eiendomsagent die brakkie die eerste keer huis toe neem, was Presley ondervoed, en dit het haar ontwikkeling vertraag. Rebecca sorg dat die chihuahua wat ’n swaar begin in die lewe gehad het, nou soos ’n koningin leef.  

Die vierjarige brakkie het meer as 150 uitrustings, onder meer oulike T-hemde en pienk balletrompies. Dié klerekas het Rebecca meer as R150 000 uit die sak gejaag.

Rebecca sê Presley, wat ’n persoonlike ontwerper het, verkies blink rynstene en bykomstighede en sal nooit dieselfde uitrusting twee keer dra nie. 

“Sy leef daarvoor,” sê die 34-jarige eienaar. “Sy spring op die stoel en sit en wag wanneer sy sien ek haal klere uit. 

“Ons gee haar ou klere vir minderbevoorregte honde en ek sorg dat Presley die jongste pasgemaakte klere in haar vele kaste en laaie het.”

Presley is bekend in die honde-modewêreld en het al aan verskeie kompetisies deelgeneem. Dié stylvolle brakkie, wat gewild in die sosiale media is, maak ook dikwels verskynings in restaurante en word op straat herken.  

“Sy is ’n bietjie van ’n diva, en daar is restaurante waar sy weier om te eet,” sê Rebecca.

Rebecca, wat nog twee honde, Belladonna (10) en ChiChi (8), het, moedig ander mense aan om parmantige chihuahuas soos Presley aan te neem. 

“Chihuahuas is die tweede algemeenste hond wat jy in ’n reddingsentrum sal sien en ek was vasbeslote om te help – dit is wat in die eerste plek gemaak het dat ek Presley gekry het,” sê sy.

“Deur te maak dat Presley herken word, hoop ek ander mense sal geïnspireer word om ook aan te neem. Ek reken minstens 10 mense het al as gevolg van my dié ras aangeneem. 

“My honde is my alles, en ek sê altyd enige moontlike vryer moet net so lief vir honde wees – anders sal dit nie werk nie!”

Bronne: Metro, New York Post, Toronto Sun

Jongste uitgawe

2 Februarie 2023

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees