KYK: Kat met 4 ore is nou internetsensasie

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Sy’s dalk nie ’n Griekse godin nie, maar dit blyk alles waaraan Midas die kat raak, is besig om virtueel in goud te verander.
Midas
Midas die kat is met vier ore gebore. Foto: Getty Images/Gallo Images

Dié vier maande oue katjie van Turkye is die internet se nuutste sensasie nadat foto’s van haar met haar vier ore die ronde op sosialemediaplatforms begin doen het. 

En sy ís boonop na die mitiese Midas, koning van Frigië, vernoem – dié koning het donkie-ore gehad, maar alles wat hy aangeraak het, het in goud verander. 

Midas die kat het reeds byna 100 000 volgelinge op Instagram waar sy en haar ore gereeld op foto’s pronk. 

Dié kat is met twee ore gebore, maar weens ’n genetiese mutasie van haar ken het sy twee oortjies binne-in haar ore. 

Canis Dosemeci en haar gesin het Midas, wat in Ankara in Turkye gebore is, aangeneem nadat hulle dolverlief op die katjie geraak het en bang was die samelewing sal dié unieke kat weens haar mutasie verwerp. 

Midas
Midas is vier maande oud en reeds 'n internetsensasie. Foto: Getty Images/Gallo Images

“Ons het nooit daaraan gedink om ’n kat te koop nie. Ons wou ’n straatkat red en ons wou Midas aanneem,” sê Canis. 

Canis vertel sy hoop Midas se gewildheid sal daartoe bydra dat mense diere sal aanneem pleks daarvan om diere te gaan koop. 

Midas
Daar skort niks met Midas se gehoor of haar gesondheid nie. Foto: Getty Images/Gallo Images

“Mense is so verras en hulle kan dit nie glo nie. Almal wil haar kom sien of foto’s van haar hê. Party mense dink wel sy is vreesaanjaend,” sê Canis. 

En hoewel Midas vier ore het en ietwat vreemd lyk, skort daar niks met haar nie. 

Midas se veearts, Resat Nuri Aslan, sê dié vier ore beïnvloed nie Midas se gehoor of gesondheid nie omdat al haar ore aan haar oorkanaal gekoppel is. 

Bronne: Reuters, Instagram, The Mirror, Huffington Post
Teken hier vir ons nuusbriewe in:

Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!


Jongste uitgawe

9 Desember 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees