KYK: Ontmoet die manlike weergawe van Raponsie

akkreditasie
Kyk jy na Massimo Volpe, het hy een ding wat menige vrou sal begeer: sy pragtige bruin haredos.

Die hare van dié vervaardiger van Milaan, Italië, is byna ’n meter lank en hang tot op sy boude.

Wanneer hy sy bruin hare laat los hang, kan jy sommer sien hoe gesond dit is. En wanneer hy sy kop swaai en sy hare gaan van die een kant na die ander, is die kans goed jy gaan ’n bietjie groen raak van jaloesie.

Massimo (34) het op die ouderdom van 12 besluit om sy hare te laat groei. Dit is maar meestal weens die invloede van punk, metal en goths in die ondergrondse musiektoneel van Rome – en dis ook waar sy liefde vir swart klere vandaan kom. Jy sal hom nooit in ’n ander kleur betrap nie.

Massimo word gereeld op straat voorgekeer. Die eerste vrae is gewoonlik hoekom hy besluit het om sy hare so lank te laat groei en hoe hy dit versorg.

Om sy hare te versorg, vermy Massimo hitte, en hy borsel dit versigtig om te verhoed dat dit breek. Hy wend twee keer per maand ’n haarmasker aan om sy hare te voed en glo sy veganistiese dieet, wat hy vir 15 jaar volg, is die geheim tot sy pragtige haredos.

“Ek moet erken ek doen nie veel met my hare nie. Ek is baie gelukkig. Ek probeer om sagkens daarmee te werk. Ek kam dit nie wild nie en maak dit nie teen hoë temperature droog nie. Ek gebruik ’n paar keer ’n maand ’n haarmasker en maak dit so min moontlik vas, hoewel dit die afgelope paar jare moeiliker geword het om te vermy.

“Ek glo my dieet help baie en ek probeer om ’n leefstyl sonder wreedheid te volg."

Massimo se hare is die gevolg van heelwat geduld. Hoewel hy dit jare laas afgeknip het, besoek hy gereeld ’n haarkapper om die punte gesond te hou. “Die vraag wat mense my die meeste vra, is hoe lank dit my neem om my hare te was, maar dit neem my nie langer as 30 minute nie."


Anders as wat mense dalk glo, haak Massimo se hare nie sommer vas aan voorwerpe of die treindeur nie – dit het nog net ’n paar keer gebeur.

Met die jare het mense se bewondering vir sy hare toegeneem. Maar toe hy jonger was, was dit nie die geval nie. Toe was hy maklik die slagoffer van seksistiese grappe oor sy hare.

Massimo het nooit die opmerkings ernstig opgeneem nie en verstaan nie hoekom lang hare ’n aanduiding van iemand se geslag moet wees nie. 

“Wanneer mense nou my hare vir die eerste keer sien, is hulle in vervoering, en hulle wil gewoonlik daaraan vat. Ander sê hulle wil dit graag vleg. Baie mense vra om ’n selfie saam met my te neem en dis altyd vir my snaaks.”

“Vir diegene wat hul hare wil laat groei, jou hare gaan op ’n stadium in jou oë hang, maar jy sal dit nie kan vasmaak as jy dit gesond wil hou nie.


“Moenie tou opgooi nie en wees geduldig. Die enigste ding wat die hare wat in jou oë hang beter kan maak, is ’n kopstampery en dus help goeie musiek.

“Ek het ’n persoonlike haarkapper in Rome wat presies weet hoe om my hare te knip en hoeveel om af te knip en dis baie belangrik.” 


Jongste uitgawe

2 Desember 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees