Jy moet twee keer kyk om vas te stel wat dit is. Dit het wiele, maar dit lyk nie heeltemal soos ’n karavaan nie. Dit het ’n dak, maar dis op die oog af te klein om ’n woonhuis te wees. Jy sou kon raai dis ’n pophuis, behalwe dat die enkele meubels binne groot genoeg is vir volwasse mense.
Is dit ’n hut? ’n Kajuit?
Nee, vertel Marisa Visicale en Carla Cronjé toe ons aan die deur klop waar hul woning tans op die Vrystaatse dorp Rosendal staan. Dis hul eie piepklein huisie – ’n “Tiny House” soos dié soort tuiste bekendstaan.