Reddingspanne grawe deur tonne puin op soek na oorlewendes ná die woonstelkompleks gister ineengestort het.
Daniella Levine Cava, burgemeester van Miami-Dade, het gesê nog drie lyke is oornag uit die rommel gehaal.
Dit bring die dodetal op vier te staan.
Plaaslike owerhede het gesê dit is nog onduidelik wat die ineenstorting van die twaalfverdieping gebou, wat sowat 40 jaar gelede gebou is, veroorsaak het.
"So iets het nog nooit gebeur nie," het Kenneth Direktor, 'n prokureur van die kompleks se beheerliggaam verklaar. "Dit is nie weens krake op die oppervlak nie. Daar is natuurlik vrae oor die konstruksie."
Oor die jare is instandhoudingswerk aan die gebou gedoen, het Kenneth bygevoeg.
Volgens Kenneth sit die ingenieursfirma wat die gebou geskik verklaar het saam met stadsamptenare koppe bymekaar om te probeer vasstel wat tot die skokkende tragedie gelei het.
"Ek dink ons sal eendag agterkom dat daar iets baie vreemds aan die gang was by hierdie gebou," het Charles Burkett, die burgemeester van Surfside in Florida in 'n onderhoud gesê.
"Geboue val nie net in hier in Amerika nie. Hulle doen dit net nie."
BRONNE: WSJ.COM, EDITION.CNN.COM, CBSNEWS.COM, REUTERS.COM
Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.