Verby is die dae toe supermodelle almal op ’n manier dieselfde was. Hulle het dalk verskillende gelaatstrekke gehad, maar eintlik was hulle op foto's byna uitruilbaar in hul fisieke volmaaktheid . . .
Deesdae pronk ’n ál groter verskeidenheid gesigte en lywe trots en vol selfvertroue in die modewêreld – en nou het ’n gestremde, gender-niekonformerende transseksuele vrou ook vir die eerste keer ’n gesogte modelkontrak losgeslaan en so geskiedenis gemaak.
Die agentskap wat Aaron Philip as een van hul nuwe sterre lys, is die bekende New Yorkse modelhuis Elite Model Management, die einste groep wat van Heidi Klum, Naomi Campbell en Tyra Banks supermodelle gemaak het.