Want terwyl jy nog sukkel om jou balans en waardigheid op gelyke grond te behou, is dié 39-jarige atleet so tuis in hakskoene soos in ’n paar tekkies – en dit boonop op ’n balanseertou wat ’n hele ent bo die veiligheid van Moeder Aarde gespan is!
Vir die meeste van ons is die blote gedagte aan dié balanseertoertjie genoeg om jou bene te laat bewe, maar die Guinness-wêreldrekordhouer laat dit na kinderspeletjies lyk.
In ’n verstommende video wat behoorlik aan die brand gekyk word op sosiale media spring sy op en af in haar hakskoene – so asof die tou eintlik ’n tamaai wipmat is. Sy wissel selfs haar spronge af deur op haar boude op die tou te land. Jy dink sy gaan haar balans verloor en val, maar nee, daar wip sy weer op . . . .
Praat van benoude boude! Maar nie vir die ratse Olga nie – deur 25 keer in 1 minuut te bons het sy die rekord laat spat.
Dis nog meer verstommend as jy hoor sy het eers op die ouderdom van 32 met hierdie buitengewone sport begin. En nee, sy is nog nooit in gimnastiek of iets dergliks afgerig nie.
Aan Active Life USA vertel Olga sy het ook geen afrigter vir hierdie spykerhakke-oppie-tou-wiptoertjie nie. Sy kry wel onmiddellike terugvoer as sy kleitrap – want sy val af, jy sien.
“Die grootste fout is wanneer ek bang raak en nie die toertjie reg doen nie, dan moet ek die gevolge daarvan verwerk. Die ander grootste fout is om NIE ’n toertjie te probeer nie; dit voel eintlik soos ’n groter mislukking,” verduidelik sy.
Kleintyd het sy al graag op die randstene gehardloop. En toe sy sewe jaar gelede hoor daar is ’n park in Santa Monica waar mense op ’n balanseertou oefen, was daar geen keer aan die klein dogtertjie binne haar nie.
“Om te oefen op die balanseertou vat al my ander gedagtes weg; dit is vir my soos meditasie,” vertel Olga aan See & Do. “Ek is ook dikwels bang, maar ek het onlangs besef ek kry dopamien en endorfiene wanneer ek vir die eerste keer ’n toertjie regkry.”
Maar vir die res van ons is dit kners op jou tande, suster, en oefen voor die spieël – jy kan nie jou naam krater maak by daardie spoggerige dinee nie!
Bronne: indiatoday.com, activelifeusa.com, see&do.com
- Moenie enige groot nuus misloop nie! Vir boeiende nuus oor bekendes en aangrypende mensestories, teken in by Huisgenoot se daaglikse nuusbrief “Huisgenoot Vandag”.
Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!