Lang tronkstraf wag op skaapboer wat afpers en babakos besmet

akkreditasie
Herts Police/Facebook
Herts Police/Facebook
’n Skaapboer en pa (45) kan einde September tot 17 jaar tronkstraf opgelê word nadat hy metaalskerwe in babakos op winkelrakke gesit en ’n reusebedrag geld van ’n supermarkgroep geëis het

Ná ’n verhoor van nege dae en ’n misdaadsaak wat wetstoepassers as die “grootste afpersingondersoek” en “uitdagendste produkbesmettingsaak" ooit in Brittanje bestempel het – is Nigel Wright van Lincolnshire, Engeland, skuldig bevind aan afpersing en die besmetting van bepaalde reekse babakos.

Regter Warby het in sy uitspraak in Londen se Old Bailey-hof aan Wright gesê hy kan tussen agt en 17 jaar tronkstraf opgelê word wanneer hy op 28 September gevonnis word. Hy is skuldig bevind aan drie aanklagte van afpersing en twee van produkbesmetting.

In die loop van twee jaar het Wright stukkies metaal in botteltjies Heinz-babakos gesit, die besmette produkte op winkelrakke geplant en tientalle dreigbriewe en -e-posse aan die supermarkgroep Tesco, een van Brittanje se grootste kettingwinkelgroepe, gestuur in ’n poging om 1,4 miljoen pond (R30 miljoen) in Bitcoin uit hulle te kry.

Een van sy ysingwekkende dreigemente het gelui: “Stel jou voor ’n baba se mond word oopgesny en bloed stroom uit of die binnekant van hul mae word gesny en bloei. Betaal en red hulle . . .”

Die pa van twee, wat met ’n laerskoolonderwyseres getroud is en ook voorgegee het dat hy ’n medepligtige het wat Tesco besoek, het by ander geleenthede ook dié onheilspellende notas gestuur: “Ek moet waai, ons het ’n bietjie inkopies wat ons hierdie naweek in jul winkels moet doen.”

En: “Betaal ons en ons sal stop, betaal ons nie en jul klante sal ly.”

Hy het ook voorgegee hy is een van ’n aantal boere wat briesend is oor lae melkpryse, en boonop gedreig hy gaan babakos wat met salmonella en potensieel dodelike waterstofsianied besmet is op winkelrakke plant.

Tesco moes noodgedwonge 42 000 botteltjies Heinz-babakos van sy rakke laat onttrek nadat produkte besmet met metaalskerwe en vylsels in twee winkels in Lockerbie en Rochdale gekry is. Nóg dreigbriewe het hulle ter voorsorg 140 000 eenhede Cow & Gate-babakos laat onttrek.

’n Groot deurbraak wat tot Wright se inhegtenisneming in Februarie bygedra het, was toe hy op kringtelevisiebeeldmateriaal vasgevang is waar hy van die besmette babakos op die rak van ’n Tesco-winkel in Lockerbie plaas.

Onder andere ’n ma van Lockerbie, Morven Smith, het in die hof vertel van haar skok toe sy ’n metaalskerf in die bakkie gewaar waaruit sy haar baba gevoer het. Dit was blykbaar ’n stukkie van ’n gebreekte kombuismes-lem.

“Ek het my seun ’n paar lepels vol gegee toe ek iets blink raaksien. Dit was aaklig. Ek het naar gevoel van die skok.”

Sy het Tesco in kennis gestel ná nog so ’n vonds in 'n botteltjie babakos.

Harpreet Kaur-Singh, ’n ma van Rochdale, het ook getuig dat sy stukkies metaal in ’n botteltjie Heinz Sunday Chicken Dinner gekry het, en later nog daarvan in ’n botteltjie Heinz Pasta Stars. Sy het albei weggegooi. Kort daarna wou sy haar babadogter van hul Cheese and Tomato Pasta Star gee toe sy weer metaal in die kos gewaar.

“Dit was stukkies versnipperde metaal – my man, ’n konstruksiewerker, het dadelik geweet wat dit was.”

Sy het Tesco daarvan verwittig. Ongelukkig was dit toe te laat vir die polisie om kringtelevisiebeeldmateriaal van die betrokke winkel te herwin.

Wright, wat die skuilname “Guy Brush” en “The Dairy Pirates” in sy afpersingboodskappe gebruik het, het erken hy het ’n besmette botteltjie babakos in die Lockerbie-winkel geplant, maar ontken hy het dieselfde in Rochdale gedoen.

Hy het in sy verhoor beweer bendelede wat gedreig het om sy vrou aan te rand en sy kinders “aan bome op te hang”, het hom tot sy walgdade gedryf.

Maar ’n staatsaanklaer het benadruk “die waarheid is dat jy glad nie uit vrees opgetree het nie. Jy het doodgewoon met jou lewe voortgegaan terwyl jy gehoop het om ryk te raak deur Tesco af te dreig en in die proses het jy ander se lewens in die gevaar gestel."

Die vervolgingspan het voorts gesê dis “duidelik dat Wright die enigste aanspreeklike persoon was wat die publiek se veiligheid in gevaar gestel het. Van sy skootrekenaar, die foto’s wat hy van die besmette kos geneem het tot die Bitcoin-toegangskode wat by hom gekry is toe hy gearresteer is – sy skuld is deur ’n oormag getuienis bewys.”

Toe polisie op sy skaapplaas toeslaan, het hulle onder meer die genoemde foto’s aangetref asook dreigbriewe op sy skootrekenaar. Hulle kon toe ook 100 000 pond (R2,2 miljoen) in Bitcoin herwin wat klandestiene polisielede gedurende die uitgerekte ondersoek gestuur het. Bitcoin word dikwels in misdade misbruik omdat dit moeiliker naspeurbaar is as ander betaalmetodes.

Die soektog van twee jaar na Wright, wat Operation Hancock gedoop is, word as Brittanje se grootste afpersingondersoek tot dusver beskou.

In ’n stadium was meer as ’n 100 polisiebeamtes en spesialiste betrokke, en 30 amptenare het ononderbroke kringtelevisie-beeldmateriaal gefynkam.

Bronne: herts.police.uk, BBC, guardian.com, manchestereveningnews.co.uk, scotsman.com

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe

Jongste uitgawe

3 Februarie 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees