Liggaamsbouer blaas sy vrou – ’n sekspop – af, en raak verlief op asbak

akkreditasie
Praat van uiterstes!

Van 'n sekspop na 'n asbakkie. Soms ken die liefde regtig geen perke nie . . .

Yuri Tolochko, 'n liggaamsbouer van Kazachstan, het verlede jaar wêreldwyd nuusopskifte  gehaal toe hy met sy sekspop, ene Margo, getrou het. Hy het haar glo een aand in 'n nagklub ontmoet en dit was liefde met eerste oogopslag, het hy destyds vertel. 

Maar daardie verhouding het nie lank gehou nie en die 36-jarige hartebreker en onlangs aangekondig hy het 'n nuwe liefde gevind. Toe hy besef Margo maak hom nie meer gelukkig nie, het hy sy pop – die liefde van sy lewe – afgeblaas. 

Want hierdie keer het hy verlief geraak op 'n enorme asbak wat hy onlangs in 'n rookvertrek – ook by 'n nagklub – gesien het.  

Hy noem homself 'n seksmaniak, 'n panseksueel (iemand wat verlief kan raak om enigeen ongeag hul geslag en identiteit) en is nie skaam om sy liefdeslewe met die wêreld te deel nie.

Die Kazachse atleet het onlangs 'n reeks foto's op sy Instagram-blad gedeel van hom en sy nuwe liefde.

"Ek dink ek het weer liefde gevind," het hy by een foto geskryf. "Ek het aanvanklik net 'n fotosessie daarmee gereël, maar toe begin ek aangetrokke daartoe voel. Ek wou net meer daaraan raak, daaraan ruik."

"Ek is versot op die reuk daarvan en die gevoel van die metaal op my vel. Ek hou ook daarvan dat dit 'n storie het, dat dit nie nuut is nie, dat dit al vir baie mense gehelp het, en steeds voortgaan om 'n diens aan ander te lewer.

"Ek het 'n spesiale passie vir voorwerpe – hulle het nog altyd vir my geleef," het hy by foto's van hom saam met die asbak geskryf. 

Yuri, wat twee sekspoppe, Lola en Luna, besit, het die eienaars van die asbak vir toestemming gevra om alleentyd saam met die asbak deur te bring. 

"Ek is 'n paar dae gelede toegelaat om vir 'n paar uur alleen saam met die asbak te wees. Ek het baie daarvan gehou. Ek wil die eienaars vra vir nog 'n paar aande se alleentyd.

"Dit sal wonderlik lyk in my harem – my skatties sal gelukkig wees. Lola en Luna sal dit ondersteun. Ek wil egter nie 'n nuwe asbak koop of die eienaars vra om dit vir altyd vir my te gee nie. Ek wil hê dit moet aanhou om sy werk te doen en iets vir mense te beteken. Ek is mal oor hierdie storie.”

Hoewel Yuri 'n verhouding met die asbak wil aanknoop, kan dit ietwat van 'n regsuitdaging beteken, berig die plaaslike media.  Nie omdat dit 'n asbak is nie, maar omdat Yuri se huwelik met Margo nog van krag is.

Want om 'n pop af te blaas beteken allermins julle is nou geskei. 

Die wet in Kazachstan vereis dat albei partye, 'n man en vrou, 18 moet wees vir 'n wettige huwelik. Hoewel Yuri nie 'n presiese rede gegee het oor waarom hy en Margo uitmekaar is nie, het hy 'n paar wenke op Instagram laat val. 

Yuri het glo verlede jaar die pop na 'n dokter toe gevat vir kosmetiese chirurgie. Maar dinge het toe glo skeefgeloop toe hy haar nuwe voorkoms sien. 

"Toe ek haar die eerste keer aan die wêreld wys, was daar baie kritiek oor hoe sy lyk, en sy het 'n kompleks ontwikkel. Ons het toe op plastiese chirurgie besluit,” het Yuri op sosiale media gesê.

"Dit is by 'n regte kliniek met regte dokters gedoen.

"Daarna het sy baie verander. Ek het daaraan gewoond geraak, maar dit was later baie moeilik vir my om te aanvaar."

Hy het kort ná hul skeiding aan Daily Star gesê hy sukkel om dit te verwerk. 

"Ek het baie tyd en moeite in die verhouding gesit; ek het gewoond geraak aan haar, twee en 'n half jaar van my lewe is met haar verbind. 

"En dis moeilik vir my om te weet dat sy nie meer daar is nie. Dit maak regtig seer. Nie almal sal dit verstaan nie. Vir sommige is sy net 'n pop, 'n speelding, maar almal verstaan ook nie die hartseer wanneer 'n geliefde troeteldier sterf nie. Ek het goed gevoel saam met haar."

En al was die spiertier vir 'n rukkie hartgebroke, sou hy nooit kon raai 'n asbak sou hom weer in liefde laat glo nie.  

En Margo? Sy is afgeblaas en sit nou in sak en as. 

BRONNE: MIRROR NEWS, THE SUN, RT, NEW YORK POST 
Jongste uitgawe

19 Mei 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees