Ek lê wakker in die bed en wonder hoe dit sal wees om in my doodskis te lê. Die vooruitsig laat my nuuskierig, opgewonde en vreemd genoeg vreedsaam voel. Ek voel die eggo’s van wilgerlote aan my palms en vingers.
In my kop sien ek weer die weeftegnieke wat ek vandag gesukkel het om aan te leer. Ek ervaar ’n onverwagte gevoel van “mal de débarquement”, daardie sensasie wanneer jou liggaam snags die gewieg van ’n lang seereis herleef lank nadat jy aan wal gestap het.
Pleks van wankelrige bene keer my hande, moeg gewerk aan doodskiste, my om in te sluimer. Een vingernael klop met ’n splinter; ’n kneukel is gekneus. My boarmspiere protesteer ná die dag se werk.