Ma, stiefpa beken moord op kleuter: 'ontvoering' vals

akkreditasie
Die 3-jarige Ana Roberta Estrada Cavazos, wie se lykie deur die polisie langs 'n rivier in Mexiko gekry is, is toe nooit uit haar ma se arms geruk nie.
Ana Roberta Estrada
Ana se verdwyding is Dinsdag by die polisie aangemeld. Foto: Newsflash/Magazinefeatures.co.za

Daar is hoog en laag na die donkerkoppie gesoek nadat haar ma aan die polisie vertel het dat haar kind uit haar arms gesteel is in Praderas de la Enramada, Mexico. Toe kry hulle klein Ana waar sy leweloos op 'n rivieroewer gelaat is . . . 

Maar iets aan haar ma se storie het nie vir die polisie sin gemaak nie. En in 'n skokkende wending in die drama het Ana Karen Estrada Cavazos glo beken dat sy haar eie kind vermoor en die storie oor die ontvoering versin het.

Beskuldigde ma
Die ma van die meisie, Ana Karen Estrada Cavazos. Foto: Newsflash/Magazinefeatures.co.za

Cesar Garza, burgemeester van die Apodaca-distrik, het op Facebook bekend gemaak dat die kind se lyk ’n dag ná haar verdwyning langs die Topo Chico-rivier gekry is. Dis nie ver van haar ouerhuis af nie. Garza het ook onthul dat die ma en stiefpa, Honero, se verklarings "vol teenstrydighede" was. Nadat die polisie hulle daaroor gekonfronteer het, het hulle glo skuld beken.

Beskuldigde ma en dogter
Die stiefpa, wat net as Honero geïdentifiseer, en die ma is vir die moord op Ana in hegtenis geneem. Foto: Newsflash/Magazinefeatures.co.za

Die vermoorde kind is glo gereeld deur haar ma en stiefpa mishandel, het die plaaslike koerant El Universal berig. Die egpaar se bure en ander bronne het aan die polisie vertel dat die kind gedurig aangerand is. 

Die rivier waar die stoorwaentjie gekry is
Die ouers het glo erken dat hulle haar stootwaentjie in die rivier gegooi het. Foto: Newsflash/Magazinefeatures.co.za

“Die ouers het verduidelik hulle het haar vermoor, haar stootwaentjie in die rivier gegooi, en toe die lyk langs die rivier neergelê," vertel Garza op Facebook. 

"Die soekspanne, wat deur die nag gewerk het, het aanvanklik geen teken van haar gekry nie. Maar toe dit lig word, is haar lykie gevind.”

Die slagoffertjie is deur 'n ander familielid uitgeken nadat die lykie na die plaaslike polisie se forensiese afdeling geneem is. 

’n Voorlopige ondersoek dui daarop dat Ana weens kopbeserings dood is. 'n Formele nadoodse ondersoek sal uitgevoer word.

Haar ma en stiefma word albei weens die moord aangehou. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe

Jongste uitgawe

26 Mei 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees