Ma wat borsvoed, sit jaloerse vrou op haar plek

akkreditasie
’n Ma wat besig was om te borsvoed het ’n jaloerse vrou netjies op haar plek gesit toe dié vra sy moet haar bedek omdat haar man nie ophou staar nie.

Sy hét haar bedek – maar pleks van haar bors het sy ’n lap oor haar gesig gesit.

Nicolle Blackman het die McDonald’s in Federal Way, net suid van Seattle, Washington, op 2 September besoek en in die hoek van die restaurant gesit om haar drie maande oue seun, Cameron, te voed. 

Die kassiere en ma van twee, wat sê sy het nooit haar tepel ontbloot nie, sê sy is toe gekonfronteer deur ’n vrou wat gevra het sy moet haar bedek, want haar man kan nie ophou staar nie.  

Maar Nicolle was so “vies” oor die eis dat sy besluit het om liewer haar gesig pleks van haar bors te bedek. Sy sê dit het gemaak dat die ontstelde vrou “haar man gryp en loop”.  

Die 29-jarige hoop dit sal ander vroue krag gee om hul babas in die openbaar te voed.  

Nicolle sê: “Ek was baie vies toe sy dit sê. Hoekom sou ek my seun toemaak? Hy hou sy asem op wanneer hy toegemaak is. 

“Ek was verbaas. Ek dink sy was ontsteld omdat haar man gekyk het. Dit het nie gelyk of hy enige aandag aan haar skenk wanneer sy praat nie. 

“Ek het agtergekom hy staar. Ek verstaan mense is nuuskierig en dit het my nie gepla nie. Ek gaan nogtans my seun voed. Sy vrou was baie besorg, maar nie ek nie.  Jy kon net die kant van my bors sien, toe dink ek, oukei, en bedek my gesig. Sy het haar man gegryp en geloop. My dogter (Kaymaii, 11) sê sy het kwaad gelyk."

“Ek het myself bedek terwyl my kind begin suig het; daarom was my tepel nooit ontbloot nie. Dit was die eerste keer dat ek iemand so sien reageer. Ek wou net die situasie verlig. My dogter het nie verstaan waarom ek haar broer moet toemaak nie en sy het die foto geneem, want sy wou my ma wys."

“Sy wou vir haar ouma vertel ek was gemeen met haar broer en sy het. My ma het gesê sy is trots dat ek opgestaan het vir dit waarin ek glo.” 

Nicolle sê hulle het in die hoek van die restaurant gesit om so ver moontlik van ander klante af te wees, maar beweer die paartjie het besluit om reg langs hulle te sit al was die plek amper leeg.  

Die drie maande oue kind het onlangs chirurgie ondergaan om sy lip- en tongbande (stukkies vel wat die lippe aan die mond verbind) te laat knip, en die ma sê as gevolg daarvan wou hy nie aan ’n bottel suig nie en moes hy geborsvoed word. 

Nicolle sê: “Daar is niks verkeerd met toemaak as dit is wat jy kies om te doen nie. Niemand het geweet my seun het chirurgie gehad nie en wou nie uit ’n bottel drink nie. Mense oordeel voor hulle die storie ken. Ek hoop ek help ander vroue deur hieroor te praat om hulle aan te moedig om vir hul kinders op te staan."

“Doen net wat ook al die beste vir hulle is. As hulle wil toemaak, is dit piekfyn. As hulle nie wil nie, is dit ook in die haak. Ek het al baie gehoor ek moet hom in die badkamer voed en dan sê ek: ‘Dis walglik. Sou jy in die badkamer eet? Hoekom sou ek my kind in die badkamer voed?’"

“Eenkeer het ek in ’n park gevoed toe ’n vrou vir my kom sê sy sou nooit in die openbaar geborsvoed het as sy my nie gesien het nie. "

“Dit was bemoedigend en dit het goed gevoel dat ek iemand die krag kon gee om dit te doen.


Jongste uitgawe

2 Februarie 2023

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees