Man vermoor apteker-broer want hy meen 'covid-entstof is gif'

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Amerikaner is in hegtenis geneem nadat hy sy broer vermoor het omdat hy geglo het as apteker “vergiftig” hy mense met die covid-entstof.
Brian Robinette
Brian Robinette is na bewering deur sy broer vermoor. Foto: Newsflash/Magazinefeatures.co.za

Jeffrey Burnham van Virginië in Amerika word in die tronk aangehou nadat hy sy broer Brian Robinette (58) en sy skoonsuster, Kelly Sue Robinette (57), op 30 September in hul huis in Ellicott City in die staat Maryland vermoor het.

Die 46-jarige man het na bewering sy broer, ’n apteker, gekonfronteer oor die coronavirus-inentings omdat hy glo die Amerikaanse regering “vergiftig mense met covid-entstowwe".

So lui dokumente wat Woensdag by die distrikshof in Maryland ingedien is.

Hy word daarvan beskuldig dat hy die egpaar doodgeskiet het en ook ’n bejaarde vriend van sy ma, die 83-jarige Rebecca Reynolds, vermoor het.

Rebecca is die dag voor die dubbele moord (29 September) dood in haar huis in Cumberland in Virginië - waar Jeffrey ook woon - aangetref.

Luidens berigte is haar keel afgesny. 

Die huis waar Brian gevind is.
Die huis waar Brian gevind is. Foto: Newsflash/Magazinefeatures.co.za

Die lyke van die verdagte se familielede is in die gang en ’n slaapkamer van hul huis aangetref, en ’n motor wat Jeffrey die vorige dag by sy eerste slagoffer gesteel het, is daar naby aangetref.

Die verdagte se ma, Evelyn Burnham, het aan die polisie gesê haar seun het vir “Brian gekonfronteer oor sy werk en omdat hy covid-entstowwe toedien”.

Volgens hofstukke het die verdagte aan sy ma gesê hy wil “vir Brian konfronteer oor die regering wat mense met covid-entstowwe vergiftig” en het herhaaldelik gesê ‘Brian weet iets’.”

Die verdagte, Jeffrey Burnham.
Die verdagte, Jeffrey Burnham. Foto: Newsflash/Magazinefeatures.co.za

Evelyn het die polisie op 29 September ontbied nadat hy beweer het die FBI is op sy spoor en omdat sy bekommerd was oor sy “geestesgesondheid en stabiliteit”.

’n Ooggetuie het aan die polisie vertel Jeffrey het rondom 16:45 by die egpaar se huis opgedaag in Brian se 2007 Corvette en gevra vir petrolgeld. Volgens die getuie het Jeffrey gesê hy sou later op televisie wees en het bygevoeg sy broer “is besig om mense dood te maak met die covid-inentings”.

Brian by sy vrou, Kelly Sue en sy kinders, Jenna e
Brian by sy vrou, Kelly Sue en sy kinders, Jenna en Griffen. Foto: Newsflash/Magazinefeatures

Jeffrey is op 1 Oktober in Davis, Wes-Virginië, in hegtenis geneem en aangekla van moord met voorbedagte rade op Rebecca, en nog twee moordklagte op sy broer en skoonsuster en ook vir ’n vuurwapenoortreding. 

Tydens ’n soektog deur sy huis het die polisie ’n leë boks 40-kaliber-ammunisie vir ’n Smith & Wesson-vuurwapen gevind.

Hy word aangehou sonder borgtog en die voorlopige hofdatum is 5 November. 

Teken in op ons nuusbriewe
Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!


Jongste uitgawe

2 Desember 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees