Meisie (6) van Kimberley kry eindelik operasie vir die 'gat in haar hart'

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Chenelle Nimrod was net drie jaar oud toe dokters haar ma meegedeel het die kleuter het ’n gat in haar hart.

Haar ma, Natasha Nimrod (40), sê haar dogtertjie was gesond voor haar diagnose, wat voorafgegaan is deur haar dogter wat gekla het van beenpyn, hardlywigheid en ’n vinnige hartklop. 

“Ek het haar hospitaal toe geneem en die dokter het gesê daar is fout met haar hart en ons moet dit laat ondersoek.”

Natasha, wat in Kimberley woon, het haar dogter na ’n hartspesialis in Gqeberha geneem, wat “die groot gat in haar hart ontdek het” en aangebore hartsiekte, ’n algemene geboortedefek wat die struktuur van ’n baba se hart en hoe dit werk beïnvloed, is by haar gediagnoseer. 

Die sesjarige Chenelle Nimrod.
Die sesjarige Chenelle Nimrod. Foto: Verskaf
 “Ek was baie gespanne, want ek het nie geweet wat om te verwag of wat met my dogter sou gebeur nie,” sê Natasha. 

Sy was verpletter deur die nuus. “Dit was die eerste keer dat ek so iets moes konfronteer.”

Dit was drie jaar gelede, en nou is Chenelle tuis ná ’n suksesvolle operasie, en sy is op die herstelpad. 

“Alles is nou verby en ek is so dankbaar,” sê Natasha.

Chenelle, nou ses, en haar ma het verlede maand Kaapstad toe gekom sodat sy eindelik haar lewensveranderende operasie by die Busamed Paardevlei- privaat hospitaal in Somerset-Wes kon ondergaan. 

Chenelle, haar ma en die personeel by die hospitaa
Chenelle, haar ma en die personeel by die hospitaal wat na haar omgesien het. Foto: Verskaf

“Die eerste ding wat sy vir my ná die operasie gevra het, was: ‘Mamma, is my hart toegemaak?’ en ek kon eindelik vir haar sê: ‘Ja, jy hoef jou nie meer daaroor te bekommer nie,’” vertel die ma van drie. 

Chenelle het ná haar diagnose medikasie gekry wat dokters gehoop het sou die gat in haar hart laat toegaan, maar dit het nie gewerk nie. Die hartsiekte het ook verhoed dat Chenelle gewig optel namate sy groei en sy is op die waglys vir ’n hartoperasie geplaas. 

“Ons het amper drie jaar vir ondersoeke gegaan tot hulle my gebel het om te sê sy kan uiteindelik vir haar operasie kom,” sê Natasha. 

Danksy die Pelo-stigting, ’n liefdadigheidsorganisasie wat bewusmaking skep en geld insamel vir kinders met aangebore hartsiektes, die Busamed-hospitaalgroep en Wings & Wishes, ’n vervoerdiens, was alles in plek vir Chenelle se lewensveranderende operasie. 

Chenelle herstel goed.
Chenelle herstel goed. Foto: Verskaf

So opgewonde en verlig soos Natasha was, was sy ook bekommerd omdat sy en Chenelle op hul eie Kaap toe sou gaan en haar man en ander kinders tuis sou agterlaat. Sy sou ook die werk moes los wat sy pas mee begin het en “die covid-situasie het dit ook skrikwekkend gemaak”.

Die dae voor die operasie was veral emosioneel. “Ek het die meeste van die tyd gehuil.”

Die dag van die operasie “was die langste dag van my lewe”. Die operasie het sowat vyf uur geduur “en ek het heeltyd op en af geloop en nie geweet wat om te doen nie. Ek het probeer kalm bly en het die hele tyd boodskappe op WhatsApp nagegaan, maar niks het gehelp nie.”

Die operasie was ’n sukses en toe Natasha haar dogter sien, kon sy nie glo sy was reeds by haar bewussyn nie, veral nadat die dokters vir haar gesê het kinders word dikwels eers ’n dag en ’n half ná hierdie soort operasies wakker. 

“Die dokters was beïndruk met Chenelle, want teen die vierde dag wou sy rondstap. Sy was baie sterk deur dit alles,” sê die trotse ma. 

En nou is Chenelle op die herstelpad tuis saam met haar ma en die res van die gesin.

Chenelle by haar ma, Natasha Nimrod.
Chenelle by haar ma, Natasha Nimrod. Foto: Verskaf

“Ek moet vir ses weke na haar omsien en moet dus tuis wees. Ek kan nie gaan werk soek nie, want ek moet hier wees vir haar.”

Die gesin trek finansieel swaar, maar ten spyte van al die uitdagings op hul pad, is Natasha dankbaar haar dogter kon die operasie ondergaan en sy wil ander kinders in soortgelyke situasies help.

Die vernaamste les wat sy geleer het in een van die “vreesaanjaendste” tye van haar lewe is om te vertrou dat alles sal uitwerk. 

“Aan ouers wat deur iets soortgelyk gaan, vertrou net op God deur die proses. Hou aan hoop en bid en God is altyd aan jou sy.

“Selfs met my kind het ek geweet God sou haar deur alles neem. Ons het gebid, my hele familie reg oor die wêreld het gebid, en ek dink daardie gebede het vir haar krag gegee.”

Teken hier in vir ons nuusbriewe

Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!

Jongste uitgawe

2 Desember 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees