Die Cumberland-polisie van Rhode Island het vandeesweek die brief van ’n 10-jarige meisie gedeel waarin sy vra dat hulle ’n koekie en wortels moet ondersoek wat vermoedelik deur Kersvader en sy takbokke geëet is.
“Ek het ’n monster geneem van ’n koekie en wortels wat ek op Kersaand vir Kersvader en sy takbok gelos het en wonder of julle ’n DNS-monster kan neem en kyk of Kersvader wel bestaan?” lui die handgeskrewe brief wat sy aan die polisie geskryf het.
Die polisie het die saak met “groot erns” hanteer en hulle het die pakkie met bewysstukke vir die forensiese eenheid gestuur, het Matthew Benson, hoof van die Cumberland-polisiekantoor, in ’n persverklaring gesê.
“Die jong meisie het duidelik ’n groot belangstelling in die ondersoekproses en om die waarheid uit te vind en sy het ’n fantastiese werk gedoen om haar bewyse te verpak. Ons sal ons bes doen om antwoorde vir haar te kry,” het Matthew bygevoeg.
Die meisie se ma sê sy was nog altyd 'n bietjie skepties en op soek na die feite, en sy het selfs haar eie kamma-laboratorium by die huis.
“Ek kyk misdaadreekse en ek dink dit moet nogal cool wees om ’n speurder te wees,” het sy aan ABC 7 Chicago gesê.
Matthew het die meisie geantwoord dat hulle reeds bewyse van Kersvader se teenwoordigheid in die omtrek gesien het en dat hulle nou vir die toetsresultate wag.
“ ’n Kringtelevisiebeeld wys ’n foto van ’n takbok in die omgewing. Ons het ook inligting dat die individu wat ons in daardie gebied gesien het pas by die beskrywing van wat mense sal beskou as Kersvader,” het Matthew gesê.
“Ons het die individu opgespoor en hoop om moontlik hierdie week ’n onderhoud met hom te voer.”
Sy hoop die resultaat van die DNS-toets sal wees dat Kersvader regtig bestaan, het die laerskoolmeisie van Rhode Island gesê.