Mexikaanse vrou vlieg 5 000 km ver vir liefde; toe moor hy haar glo vir haar organe

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Sy was op soek na ware liefde, en toe sy dié Peruaanse man aanlyn raakloop, het sy haar tasse gepak en 5 000 km ver gevlieg om hom te ontmoet. Sy het geglo hy was Die Een.

Blanca Arellano het op die laaste dag van Oktober vanjaar ’n vlug uit Mexikostad na Lima, Peru, geneem om 37-jarige Juan Pablo Villafuerte, ’n biotegnologie student, te ontmoet.

C
Bianca Arellano het gedink dis haar kans op liefde. Foto: Twitter/@itskararellano

Die 51-jarige se eindbestemming was die kusstad Huacho, waar Juan gewoon het. En dit is hier waar haar familie die laaste keer – ’n week later – op 7 November met haar kontak gehad het. 

Volgens die ondersoek het Blanca met haar niggie Karla gesels en gesê sy is smoorverlief op Juan, maar twee weke later, ná doodse stilte van Blanca, het haar niggie op Twitter om hulp gesmeek om haar tannie op te spoor. 

“Ek het nooit gedink ek sou in hierdie situasie wees nie, maar vandag vra ek jou om hierdie plasing te versprei en een van die mees geliefde en belangrikste mense van my lewe op te spoor. My tannie Blanca Olivia Arellano Gutiérrez het Maandag 7 November in Peru verdwyn. Ons vrees vir haar lewe,” het Karla se plasing gelui. 

Blanca en Juan was volgens haar familie vir ’n paar maande in ’n aanlyn verhouding voor sy Peru toe gegaan het. Sy het gereeld oor haar gevoelens teenoor Juan gepraat en gesê sy is “gelukkig en tevrede” met haar verhouding.

Maar toe sy stil raak, was haar niggie Karla die eerste wat vermoed het iets is fout.

“Ek het na Juan uitgereik aangesien hy die enigste een was wat sy in Peru geken het, en dis waar ons vir haar lewe begin vrees het,” het Karla verder geskryf.

V
Blanca se niggie het op Twitter gaan hulp soek om haar tannie op te spoor. Foto: Twitter/@itskararellano

Blanca se niggie het ’n skermgreep van haar aanvanklike gesprek met Juan gedeel, waar sy hom gevra het of hy haar tante kan vra om te bel.

“Is sy oukei?” het Karla gevra. Juan het gesê hy het ’n paar dae gelede opgehou om met haar te praat en gesê: “Sy het besluit om te terug te gaan Mexiko toe omdat ek haar nie die lewe kon gee wat sy wou hê nie. Ek het haar verveel en sy het ’n vliegtuigkaartjie gekoop.”

“Ek hoop dit gaan goed met haar, maar ek het nou verder niks hiermee uit te waai nie. Ek weet niks anders nie en ek sê dit met hartseer. Ek is seker haar foon werk nie of haar battery is dood. Pas jou op en ek hoop sy kom veilig by die huis aan,” het Juan in sy laaste aanlyn gesprek met Blanca se familie gesê.

Peruaanse owerhede het ’n ondersoek van stapel gestuur nadat die plasing duisende kere gedeel is. Maar ’n paar dae later is Blanca se familie se ergste vrese bevestig.

’n Kop van ’n vrou is op 9 November op die strand naby Juan se woning in Huacho gekry.

’n Paar uur later het die owerhede ook ’n afgesnyde vinger met ’n silwer ring daarop gekry waarvan die vingerpunt verwyder is.

Die volgende dag is ’n bolyf sonder organe gevind aan die einde van ’n kanaal wat in die see inloop. Ondersoekers het vinnig bevind die kanaal loop voor die universiteit verby waar Juan studeer.

Forensiese deskundiges het ook vasgestel dat die slagoffer se gesig verwyder is deur iemand wat ervare is met die gebruik van chirurgiese instrumente.

Spore van Blanca se bloed is regdeur Juan se woonstel ontdek. Hy het ook dae ná haar verdwyning video's van haar organe op TikTok geplaas.

Kort ná die ontdekking het die polisie Juan in hegtenis geneem op aanklagte van moord asook mense- en orgaanhandel. Juan ontken sy betrokkenheid by die misdaad en bly in aanhouding terwyl die ondersoek voortduur.

Bronne: dailymail.co.uk, vice.com, news.com.au, independent.co.uk

Jongste uitgawe

2 Februarie 2023

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees