Mara het op 15 Julie tydens Swim Week in Miami, Amerika, opslae gemaak toe sy gekies is om aan die tydskrif Sports Illustrated (SI) se Paraiso x swemdragmodeparade deel te neem. Min het die toeskouers geweet wat om te verwag toe sy in ’n goudkleurige bikini haar verskyning maak. En vir die eerste keer in die wêreld, was dié model nie alleen nie.
Inteendeel, sy het die loopplank bestyg terwyl sy besig was om haar baba te borsvoed. Aria het met oorfone gepryk om die geraas om haar uit te doof. Om haar doek was ’n groen lap drapeer. Die kleinding het deur die hele affêre heel vreedsaam in haar ma se arms gelê.
Vir Mara was die ervaring oorweldigend, eerstens omdat dit een van haar drome was om vir SI ’n model te wees en ook omdat sy en haar dogter hoofopskrifte gehaal het vir iets “wat ek elke dag doen”.