Twee navorsers het onlangs bewys hoe slagoffers en oortreders in drie bekende sake in die Suid-Afrikaanse geskiedenis verlangs van mekaar familie is – en in die proses laat hulle mens wonder op watter donker verhale jy in jou eie stamboom sal afkom as jy bietjie krap.
Die rebel Jopie Fourie is meer as ’n eeu gelede as landsverraaier tereggestel en word vandag nog deur sommige mense as ’n held beskou. Carl Pistorius het in die 1950’s ook aan die galg gehang nadat hy sy twee kinders vermoor het. En minder as 10 jaar gelede het Oscar Pistorius wêreldwyd die nuus gehaal nadat hy sy meisie, Reeva Steenkamp, in ’n woedebui doodgeskiet het.
Op die oog af is dit drie onverwante voorvalle. Maar ’n verpleegster van Vanderbiljpark en ’n navorsers van Stellenbosch het onlangs vasgestel die betrokkenes in dié drie sake was verlangs familie van mekaar.