Len is op 13 November by ’n gastehuis in Muldersdrift glo deur ’n polisielid geskiet. ’n Video-opname van dié voorval is wyd en syd in die sosiale media gedeel en daarin kan gesien word hoe Len ’n polisielid se wapen gryp en ’n ander hom dan in die kop skiet.
Len is sedertdien in ’n hospitaal aan die Wesrand. Dokters kon nog nie die koeël in sy skedel verwyder nie, omdat hy nie stabiel is nie. Tog toon hy tekens van vordering.
“Len is bietjie meer by sy bewussyn en die infeksietelling is laer. Hy is ook die afgelope paar uur van die ventilator af. Die dokters sê daar is breinskade, maar hulle weet nog nie wat die omvang daarvan is nie,” sê Chantal Cloete, sy vrou van die afgelope vyf jaar.