My eks lag vir my liggaamsbou-droom – kyk net hoe lyk ek nou

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Sy is ’n 42-jarige Amerikaanse ouma, maar dit keer haar nie om haar persoonlike doelwitte as liggaamsbouer te bereik nie.

Die persoonlike afrigter Wendy Levra (42), van Elko in die Amerikaanse deelstaat Nevada, het in ’n rebelse fase professioneel begin liggaamsbou. Wendy is nou ’n beroepsliggaamsbouer met boarms van 38 cm, bobene van 61 cm en ’n borskas van 94 cm. 

Wendy het op 35 by die gim aangesluit, want sy het in daardie stadium gevoel sy het te veel gewig aangesit vir haar kort lyf. 

Haar gewone afrigter sê toe vir haar sy moet dit oorweeg om aan kompetisies deel te neem. Toe sy vir haar destydse man vertel, het hy vir haar gelag. Sy het haar vervies en dit het haar op koers gesit na nasionale kompetisies en glorie. 

Wendy het hard begin oefen, ’n jaar later aan haar eerste kompetisie deelgeneem en was tweede in die Utah Classic. Ná haar eerste kompetisie het sy besef wat sy gedoen het om ’n punt te bewys kon ’n leefstyl en ’n loopbaan word. 

Sy het tyd afgeneem om aan kompetisies deel te neem en het haar lyf opgebou, want in daardie stadium het sy dik bene en ’n klein bolyf gehad, vertel sy.

Wendy se pad na kompetisies in Amerika was lank en moeilik en het oor verskeie jare gestrek.  

Sy het uit haar werk in die versekeringsbedryf bedank om ’n persoonlike afrigter te word. 

Sy het ook van haar man geskei en ’n man ontmoet wat haar rots in haar liggaamsbouleefstyl is. “Ek is nou vir drie jaar saam met Sean Oflattery (27). Ons het mekaar lank gelede by ’n gim ontmoet. Sean stel ook in die liggaamsbouleefstyl belang,” sê Wendy.  

“Ons was vir ’n ruk vriende, maar ’n paar jaar later het ek gesukkel om my huur te betaal en Sean het van Iowa na Elko teruggetrek. Toe trek ons saam in.

“Ons het gou goed oor die weg gekom. Ons hou van dieselfde goed, soos uitgaan en reis. Ons hou van skepbordroei en inkopies doen. Ons bestee te veel geld aan simpel goed en het dieselfde musieksmaak. 

“Ek noem myself ’n poema, nie ’n cougar nie. Ek is nog nie oud genoeg om ’n cougar te wees nie. Sean kom ook goed met my kinders oor die weg.” 

Wendy het voorheen geestesgesondheidsprobleme gehad, maar sedert sy haar liggaamsbouleefstyl begin volg het, het sy haar demone oorwin. 

“Ek het depressie en eetsteurings oorkom,” sê sy. “Ek het altyd baie kwaai angs en terneergedruktheid ervaar. Sedert ek begin liggaamsbou het, het ek dit as ’n uitlaatklep gebruik en jy moet ’n positiewe ingesteldheid hê om daardeur te kom tot waar ek nou is.” 

Wendy het haar eerste seun op 17 gehad en moes hoërskool verlaat. 

“My oudste is nou 25 en hy en Sean kom baie goed oor die weg,” sê Wendy. “Die eerste keer toe hulle mekaar ontmoet het, het hy gedink Sean gaan ’n idioot wees, want hy is ’n liggaamsbouer. Maar nou is hulle groot vriende. Ouderdom was nog nooit by ons ’n probleem nie. 

“My oudste woon in Idaho. Hy het ’n gesin van sy eie. Ek het ’n kleindogter en nog een is op pad. 

“My jongste (16) is baie ondersteunend. Hy woon nou by my en hy reis saam met my na kompetisies. Maar hy is die een wat my moet verduur wanneer ek knorrig raak in die voorbereidingseisoen en gedurig op hom skree as ek aanloklike eetgoed in die huis sien.”

Wendy handhaaf haar gewig van 72,5 kg en oefen twee uur per dag om haar liggaamsbou-voorkoms te behou.

“Ek doen soggens 40 minute lank kardio en gaan saans gim toe vir helfte-helfte,” sê sy. “Ek eet ses maaltye per dag en ek eet baie proteïen. En in my afseisoen taamlik baie koolhidrate ook. Dit is hoenderrys, ’n bietjie vis, eierwitte, baie groente, ’n bietjie vrugte. ’n Baie gesonde, skoon dieet en baie vitamiene.”

Wendy ervaar heelwat liggaamsdismorfie terwyl sy haar liggaamsboulyf in stand hou. 

“Ek voel in die geheel goed oor my lyf, maar liggaamsbou veroorsaak ’n mate van dismorfie. Soos wanneer jy in jou afseisoen is, soos ek nou, en jy voel vet. Ek weet logies dit is simpel om so te voel, maar my lyf lyk nou anders as wanneer ek vir ’n kompetisie voorberei. Tydens voorbereiding is ek uiters lenig en ek sien elke spierstrekking of elke spier is gedefinieer.”

Wendy kry gemengde reaksie in die sosiale media en van haar vriende en familie oor haar liggaamsbou-voorkoms. 

“En my familie en vriende sê vir my ek motiveer hulle om te oefen. Maar dan sê hulle goed soos ‘ek wil oefen, maar ek wil nie soos jy lyk nie’. 

“En party trolle op Instagram los kommentaar soos ‘jy is walglik’ of ek lyk soos ’n man met borste. Ek laat dit nie toe om my te beïnvloed nie. Dit is immers my lewe en dit is iets wat ek geniet. En die liggaamsbouleefstyl het my soveel gegee. 

“Liggaamsbou het my baie selfvertroue gegee. Ek was altyd skaam. Ek sou nie met mense praat tensy hulle my eerste genader het nie. Ek kan bereik wat ek wil. Ek is nou baie positiewer as wat ek voorheen was.”

Teken in op ons nuusbriewe

Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!

Jongste uitgawe

27 Januarie 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees