En dit als oor ’n ouderdomsverskil van 32 jaar tussen haar en haar geliefde.
Vanessa Szabo-Menyhart (22) van Maidstone, Engeland, sê haar familie het haar verhouding met die 54-jarige tafeltennisafrigter Geza Szabo probeer saboteer sedert hulle jare gelede mekaar vir die eerste keer ontmoet het.
Vanessa en Geza het mekaar in Maart 2018 by ’n tafeltenniskompetisie ontmoet toe sy maar net 19 jaar oud was.
Hulle het goeie vriende geword, en eers maande later in Augustus op hul eerste afspraak gegaan.
“Dit was nie liefde met die eerste oogopslag nie omdat ek gedink het hy is nogal vol van homself. Wanneer ek na hom gekyk het, het ek iemand gesien wat gedink het hy kan almal anders uitstof en dat hy die wenner is,” vertel sy.
Sy vertel hulle het glad nie gedink hulle sal ooit saam in ’n verhouding wees nie.
“Later toe ons mekaar beter leer ken en aanlyn begin gesels het, het ons besef ons het gevoelens vir mekaar. Ons het eers net soos vriende gevoel.”
Sy vertel Geza het deur die maande sy ware self vir haar begin wys. “Hy is ’n heer en het ’n baie goeie sin vir humor. Hy kan my heeltyd laat lag. Daar is ’n ouderdomsverskil van 32 jaar tussen ons. Ek was nog nooit aangetrokke tot mans wat soveel ouer as ek is nie, en hy het nog nooit met iemand van my ouderdom uitgegaan nie.”
Vanessa was dus bang en het gewonder of hul verhouding met hierdie groot ouderdomsverskil sal kan werk. Sy was ook bekommerd oor wat haar familie sal dink.
Haar bekommernisse was glad nie ongegrond nie.
Vanessa se familie het vir haar gesê sy en Geza moet hul verhouding verbreek, onthul sy.
“My familie was nie gelukkig toe ek vir hulle sê hoe ek oor Geza voel nie. Hulle het gedink ek is naïef om te dink hy het nie al met vroue van my ouderdom uitgegaan nie. Hulle het gedink hy soek dalk ’n nuwe trofee.”
Sy vertel haar familie het haar gemanipuleer om met vriende en mense van haar eie ouderdom te begin uitgaan.
“Hulle wou hê ons moes opbreek. Hulle het gesê ek sal dit oor 10 jaar berou wanneer ek sien dat ander mense se verhoudings beter as myne is.”
Haar familie het egter geleer om haar keuse te aanvaar, maar dit was klippe kou voor hulle daar uitgekom het.
Net haar tweelingsuster het haar en Geza se verhouding ondersteun.
Ondanks al hul uitdagings het Vanessa en Geza nie toegelaat dat ander mense se menings hul verhouding versuur nie. Hulle het selfs ’n gesin saam begin.
“Ons het ons eerste kind gehad. Henrik is op 27 Augustus 2020 gebore nadat ons vir twee jaar saam was,” vertel sy.
Hulle is twee dae later getroud nadat hulle op 29 Augustus 2019 by die Eiffeltoring in Parys verloof geraak het.
Sy was toe ook bekommerd oor hoe mense sal reageer oor hoe hulle hul seuntjie grootmaak omdat daar so ’n groot ouderdomsverskil is.
“Dit lyk asof ek verniet daaroor bekommerd was. Geza is optimisties dat hy daar sal wees vir Henrik wanneer hy grootword.”
Geza se ouma het immers 95 geword, terwyl sy oumagrootjie tot 107 gelewe het. Geza se pa het 99 geword voor hy dood is.
Tog, vertel Vanessa, oordeel die publiek hul verhouding en baie mense dink Geza is haar pa.
“Voor jy iemand oor ’n groot ouderdomsverskil oordeel, moet jy hulle dalk eers leer ken. Nie alle jong vroue gaan met ouer mans vir hul geld uit nie. En nie elke ouer man soek net ’n jong vrou as ’n trofee nie.”
Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!