Daar is altyd die gewilde aandete-en-’n-huweliksaanbod-manier. Of die piekniek-en-kniebuig-opsie. Wynlande of berge toe koers kies. En selfs daardie gewilde KFC-huweliksaanbod wat soos ’n veldbrand in die sosiale media versprei het en tot die sprokiestroue-storie gelei het waaroor mense vandag nog praat. Maar ’n Oos-Kaapse man het besluit hy wou niks daarvan vir sy spesiale dag hê nie.
Hy wou ligte, sirenes en aksie hê – en hy het dit alles gekry. Daar was ambulanse en paramedici, polisiemotors, ’n afgesperde hoofweg en die man van die oomblik op ’n draagbaar.
Dit was soos ’n toneel uit ’n rolprent, maar vir die petroljoggie en Bolt-bestuurder Zikhwe Sonwabile en Nokuthula Masilela was dit die begin van die volgende fase van hul liefdesverhaal. Dit was ’n skok vir Nokuthula, wat ontbied is na ’n moontlik “noodlottige” ongelukstoneel waarby haar kêrel van vyf maande betrokke was.