’n Amerikaanse man moes van ’n vliegtuig afklim – oor sy lengte

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Toe Beau Brown ’n sitplek naby die uitgang vir sy vlug huis toe bespreek het, het hy gedink hy was veilig. Hy net een besonderheid vergeet. Sy lengte.

Die kinematograaf van Atlanta staan 2,16 m in sy sokkies en sukkel om in gewone vliegtuigsitplekke, storte, motors en selfs gange te pas.

Op sy gewilde TikTok-rekening met meer as ’n miljoen volgelinge lyk Beau reusagtig waar hy bo die wasbak in sy badkamer staan. In hysers kap sy kop teen die plafon, en hy moet sy knieë buig om in die spieël te kyk.

Hy het verlede maand die nuus gehaal toe hy van sy vlug na Georgia verwyder is, want hy het nie in die uitgangsitplek gepas nie. Aan boord die vliegtuig “het my knieë aan die sitplekke voor my geraak, en ek was vasgepen en kon nie plat sit of opstaan nie”, verduidelik hy.

Om vir die ongerief te vergoed, het die lugdiens hom op ’n ander vlug na ’n eersteklassitplek opgegradeer aangesien hy nie in die ekonomiese sitplekke pas nie.

In ’n video wat ná die voorval geplaas is, buig Beau vooroor terwyl hy na sy sitplek stap – en wanneer hy eindelik sy sit kry, pas hy skaars daarop.

“Reis is altyd vir my ’n groot stryd en vlieg kan uiters ongemaklik wees,” sê Beau.

Sy buitengewone lengte maak die lewe ’n bietjie duurder vir die hemelbesem wie se klere spesiaal vir hom gemaak moet word. Hy dra ’n nommer 18-skoene.

“Soms is dit frustrerend wanneer ek aardige bedrae aan gewone alledaagse dinge moet bestee.”

Die 29-jarige sê hy is gewoond daaraan dat vreemdelinge hom in die openbaar nader met vrae of vir foto’s vra. “Ek hou daarvan om in die skare uit te staan en ek is tevrede met my voorkoms,” sê hy.

Sy internetroem het gehelp dat hy meer geld verdien en ’n gemakliker woonstel kon bekostig.

“Voor ek my eie plek kon bekostig, was huur ’n nagmerrie, want ek moes gedurig koes vir die lae plafonne,” sê hy.

Hy woon nou in ’n woonstel wat spesiaal gebou is met 3,6 m-hoë plafonne en hoër ingange sodat hy eindelik “ten volle in ’n gerieflike omgewing by die huis kan ontspan”.

Met sy nuutgevonde aanhang hoop hy om die gewildste hemelbesem op sosiale media te word. “My droom is om ’n reisprogram te hê wat wys hoe moeilik dit is vir iemand oor die 2 meter om oor die wêreld te reis. Dit sal wonderlik wees.”

Al staan hy uit tussen ander mense, is hy by die huis net ’n gewone ou. Hy het ewe lang familielede wat die stryd verstaan wat sy lengte meebring.
Sy vrou, Sara, met wie hy verlede jaar getroud is, is op 1,85 m self ’n langeraat.

Bronne: dailymail.co.ukmeaww.comnypost.com

Jongste uitgawe

26 Mei 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees