In dié huis sal jy nooit, ooit sukkel om ’n skryfding te kry nie. Nooit. Daar is penne oral deur die huis versprei: op twee tafels in die sitkamer, netjies uitgepak; op ’n tafel in die kombuis.
Daar’s ’n hele bed vol in een slaapkamer, en nog twee beddens vol in ’n tweede slaapkamer.
As jy hulle sou tel – dié penne in al wat ’n vorm, ontwerp en kleur is – sou jy lánk besig wees. Maar jy sal eindelik uitkom by 7 500, sê Marina Coetzee (56) ingenome. En sy sal weet, want sy hou mooi kop van presies hoeveel penne daar in die huis is.