Dit was die begin van ’n jare lange moeilike reis wat by dwelmverslawing gaan draai het. Maar vandag is hy al amper twee jaar nugter. “Dit het op my gesig begin,” onthou Byron (32), wat in KwaZulu-Natal woon.
“Ek het ertjiegrootte knoppies begin kry en het besef dit was nie gewone puisies nie, want daar was geen wit of swartkoppies nie. Dit was baie seer en rooi en het gou na my borskas versprei.”
Nadat ’n dermatoloog eers die verkeerde medisyne voorgeskryf het, kon hy ’n jaar later by ’n ander dermatoloog uitkom wat al van hidradenitis suppurativa (HS) gehoor het en medisyne daarvoor kon voorskryf.
Dit het gehelp om te keer dat die uitslag opvlam, maar toe Byron se liggaam mettertyd ’n toleransie daarvoor opbou, het die medisyne ophou werk.
“Die knoppies het oor my hele lyf begin versprei. Dit was aan my gesig, rug, borskas, bene, armholtes, nek, boude en tussen my dye. Daar was selfs knoppies op my enkels. Die knoppies het later etter begin afskei.
“Ek het baie selfbewus geword en donker klere begin dra om die vlekke weg te steek. Ek moes dikwels weggaan van ’n plek af omdat etter begin lek het.” Boonop was die uitslag baie seer en het dit nie lekker geruik nie.
“Ek moes stywe klere vermy, omdat die wrywing teen my vel enige uitbrekings erger maak.” By die skool is hy gereeld gespot en geboelie.
“Ek is dikwels ’n melaatse genoem. Ek het gereeld gebank.” Saans het hy homself aan die slaap gehuil, en hy het mettertyd baie depressief geraak. Teen die einde van matriek is hy deur vriende aan dwelms en alkohol bekendgestel.
“Daai eerste keer het die dwelms al die emosionele pyn heeltemal verdoof, en toe word dit ’n hanteringsmeganisme. Gou was ek verslaaf en het ek misbruik waarop ek ook al my hande kon lê.”
Hy het begin steel en ook sy ouers en broer, wat hom nog altyd ondersteun het, emosioneel mishandel. “Wanneer hulle probeer help het, het ek hulle weggestoot, wat my net nog meer afgesonder laat voel het.”
So het dit vir omtrent 10 jaar gegaan. Tot hy op ’n dag ’n familie-erfstuk gesteel het om dwelms te kan koop. “Toe ek later besef wat ek gedoen het, wou ek ’n einde aan alles maak, maar ek het aan my familie gedink en hoe hulle my nog altyd ondersteun het.
“Ek was desperaat om my lewe te verander.” Hy het by ’n rehabilitasiesentrum aangemeld en ’n aanlyn ondersteuningsgroep vir verslaafdes gekry. Vandag werk hy as vrywilliger by die sentrum waar hy was, en probeer hy op sosiale media 'n bewustheid vir HS skep.
Op 15 April sal Byron al twee jaar nugter wees. Hy moet steeds elke maand of wat hospitaal toe gaan om die knoppies op sy vel te laat oopsny en dreineer. “Ek kry nog baie vrae van mense oor my vel, maar ek is nie skaam om daaroor te praat nie. Ek het myself aanvaar.
“Nou fokus ek daarop op ander gelukkig te maak deur my storie te deel. Ek wil hê mense moet weet hulle is nie alleen nie.”